Die Diamantstad het volgens geskokte inwoners en organisasies een van sy blinkste sterre verloor met die dood van DF Marais, uitvoerende hoof van Crown Asphalt, en siviele kontrakteur en stigter van die niewinsgewende organisasie Kimberley 4 Kimberley wat slaggate oral in die stad herstel het.
Hy laat sy vrou, Annemarie, en twee seuns agter.
In ’n verklaring op Kimberley 4 Kimberley se Facebook-blad, sê die span hulle “neem met ’n geweldige swaar hart kennis van DF Marais se dood”.

“DF was nie net ’n kollega en ’n vriend nie, maar hy was ’n helpende hand vir so baie mense. As daar iets was wat moet uitsorteer word, was DF daar. Daar is niks wat vir hom te veel moeite was nie.
“Hy het onwrikbaar geglo in die verbetering van sy dorp. Sy stad. Sy nalatenskap. Die paaie waarop baie Kimberliete nou kan ry, het hy reggemaak. Hy het sy eie tyd, sy eie vakmanskap, sy eie werknemers ingespan om die wêreld ’n beter plek te maak.
Sy drome was gróót, sy planne oneindig, sy strewe na verbetering en positiwiteit het nie perke geken nie. Hy het hom daarop toegespits om ander te help en die wêreld ’n beter plek te maak.
“Dit waarvoor hy gewerk het, sal ons eer. Elke keer as jy voor jou huis skoonmaak of ’n papier optel of iemand help oor die straat, kan jy weet hy sal glimlag. Elke keer as ons kies om positief te wees, in plaas van negatief, al is dinge moeilik of al lyk dit onmoontlik, kan ons weet hy het iets agtergelaat wat nie uitgevee kan word nie. ’n Legacy. Ons innige meegevoel en simpatie met sy naasbetaandes. Ons harte is saam met julle stukkend.”
In ‘n verklaring van die Noord-Kaapse Sakekamer, sê Sharon Steyn, bestuurshoof, dat hulle met skok en groot hartseer verneem het van Marais se afsterwe.
“Hy was nie net ’n vriend en kollega nie, maar ’n man wat in Kimberley geglo het en die potensiaal gesien het wat die stad steeds het. Hy was bereid om alles in sy vermoë te doen om ons as Kimberliete weer trots op ons stad te maak. Hy het nooit moed opgegee nie en het altyd nuwe idees en maniere gehad waarop ons die stad kon omdraai.”
In hul verklaring sê Cassie Carstens van Wildeklawer Sport, waar Marais ook betrokke was, dat hy onthou sal word vir sy opregte vriendskap, toewyding en die positiewe verskil wat hy in die lewe van almal rondom hom gemaak het.
“Sy teenwoordigheid en bydrae het ’n blywende indruk gelaat, en sy verlies laat ’n groot leemte. Ons innige meegevoel gaan uit na sy familie, vriende en almal wat hom liefgehad en geken het. Rus sag, DF. Jy sal opreg gemis word.”
Sy roeping was om stad se sprankel te herstel
In ’n onderhoud met NoordkaapBulletin in 2024 het Marais gesê hy het ’n roeping om die stad se “sprankel” te herstel deur samewerking tussen die private sektor, inwoners en die munisipaliteit.
Die storie van Kimberley 4 Kimberley het begin by ’n oomblik van krisis: ’n Ambulans wat dringend op pad was na ’n hospitaal in McDougalweg het ’n band in ’n slaggat gebars. In plaas daarvan om bloot te kritiseer, het Marais sy werkers opdrag gegee om die gat onmiddellik te herstel.
LEES OOK: Kimberley 4 Kimberley bring hoop, begaanbare paaie vir almal
“Ons gaan nie krities en negatief op die kantlyn staan nie,” het hy destyds gesê.
Onder sy leiding het Kimberley 4 Kimberley vanaf Januarie 2023 reeds meer as R16 miljoen se werk verrig en sowat 50 000 vierkante meter se padoppervlak herstel. Hy het reuse soos die Ekapa-myngroep en Absa aan boord gekry, maar het altyd waarde geheg aan elke klein bydrae van inwoners.
Marais se dryfveer was emosioneel: hy wou keer dat dokters, spesialiste en inwoners die stad weens swak infrastruktuur verlaat. Hy het geglo dat ’n skoon, heel stad inwoners trots maak. Sy werk was ’n “storie van hoop” wat hy gehoop het as bloudruk vir ander dorpe, soos Prieska, kon dien.
- Sy seun, Daniel, het bevestig sy pa is Maandagaand 9 Februarie in ‘n ongeluk op die R31-roete tussen Daniëlskuil en Ulco oorlede.
- Die troosdiens is Saterdag 14 Februarie om 10:00 by The Word Church op die hoek van Memorialweg en Voortrekkerstraat in Kimberley.






You must be logged in to post a comment.