NovaNews

Appèlaansoek oor testament van wyle regter Yvonne Mokgoro afgewys

court image
Die Hooggeregshof in die Noord-Kaap het Gaolatlhwe David Mmelesi se aansoek om verlof om te appelleer teen ’n vroeëre uitspraak oor die geldigheid van ’n elektroniese testament van sy lewensmaat van die hand gewys.

KIMBERLEY – Die Hooggeregshof in die Noord-Kaap het Gaolatlhe David Mmelesi se aansoek om verlof om te appelleer teen ’n vroeëre uitspraak oor die geldigheid van ’n elektroniese testament van sy lewensmaat, wyle oudregter van die Konstitusionele Hof Yvonne Mokgoro, van die hand gewys.

Mmelesi word ook in die streekhof in Kimberley aangekla van strafbare manslag ná die ongeluk op 3 April 2023 omstreeks 20:00 op die N12, waarna  Mokgoro later aan haar bewerings beswyk het. Hulle was onderweg na Kimberley toe hy na bewering in hul Mercedes-voertuig teen ’n vragmotor gebots het.

Mokgoro, wat reeds afgetree was, is ernstig beseer. Sy is op 9 Mei 2024 weens haar beserings oorlede. Mmelesi voer in sy verweer aan hy het gedink hy sien ’n mens in die noodbaan lê, waarna hy ’n U-draai gemaak het. Hy wou toe weer ʼn U-draai maak. In sy verklaring sê hy het gewag vir die verbygaande verkeer toe die vragmotor teen hulle bots. Toe hy na sy lewensmaat kyk, het haar kop vooroor gehang. Hy het haar probeer stut.

LEES OOK: Wyle regter Yvonne Mokgoro: Forensiese kenner gee mening oor ongeluk

Die afsonderlike siviele geding het gewentel rondom die regsvraag of ’n testament wat slegs elektronies geteken is, as geldig beskou kan word.

Die geskil handel oor die verskil tussen haar testament van 2014 en ’n nuwer weergawe van 2021. Die 2014-testament, wat aan alle fisieke formaliteite voldoen het, het Mokgoro se aandeel in ’n eiendom in die Magersfontein Gholflandgoed aan Mmelesi bemaak.

Die 2021-testament, wat slegs in elektroniese vorm by ’n finansiële makelaar gevind is, bemaak dieselfde eiendom egter aan haar kinders en kleindogter.

Hoewel die 2021-testament nie fisiek met ’n pen geteken is nie, is die handtekeninge van die oorledene en getuies elektronies daarop aangebring.

Mmelesi se regspan het aangevoer dat die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (ECTA) die werking van die Wet op Testamente uitsluit in gevalle waar dokumente slegs elektronies bestaan.

Regter Lawrence Lever het in sy uitspraak bevind dat daar geen bepaling in die ECTA is wat die hof verhinder om artikel 2(3) van die Wet op Testamente toe te pas nie. Die artikel gee aan ’n hof die diskresie om ’n dokument as ’n geldige testament te aanvaar as daar bewys kan word dat dit die oorledene se ware bedoeling was.

In hierdie geval is dit selfs deur Mmelesi toegegee dat Mokgoro wel bedoel het dat die 2021-dokument haar laaste testament moes wees.

Regter Lever het beslis dat Mmelesi nie kon bewys dat daar ’n redelike vooruitsig is dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking sou kom nie. Hy het ook bevind dat daar geen ander dwingende redes bestaan waarom die appèl aangehoor moet word nie.

Die aansoek is gevolglik met koste afgewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article