Om braaivleisvure word daar dikwels gepraat van hoe moeilik dit is om die Griekwas in Kimberley te klop. Die spelers is hard, die velde is hard, die spel is besonders hard.
Dit is dieselfde wanneer skole teen die Hoërskool Diamantveld van Kimberley opdraf. Hulle onversetlike spel is die laaste paar jaar gemoderniseer om meer van hul vaardighede ten toon te stel en om op hoër tempo te speel. Hulle het hierdie spel aan die einde van verlede jaar tydens die Six Gun Summer School Festival in die Boland gewys.
1ste XV afrigter, Vlos Molnar, is reeds vroeg vanjaar al besig om sy troepe vir die 2026 seisoen te slyp.
“Ons is opgewonde oor die seisoen wat voorlê, die toetstye lyk goed. Ons het gelukkig ‘n goeie verhouding met die ander sportsoorte se afrigters. So alhoewel almal nog atletiek doen, word daar ruimte gegee vir ons om met die rugby ook aan te gaan. Ons koop maar tyd waar ons kan,” sê hy.
Diamantveld het in 2025 besonders goed presteer waar hulle 14 uit hul 18 wedstryde gewen het. Hulle enigste nederlae was teen groot kanonne soos Affies en Waterkloof. Volgens Molnar is dit net in ‘n perfekte wêreld realisties om te dink ‘n span kan onoorwonne vir ‘n hele seisoen bly.
“As jou doelwit is om alles te wen, wat gebeur as jy dan een wedstryd verloor? Ons wil daarop fokus om die seuns manne te maak. Ons kyk na wat ons kan doen om so goed as moontlik voorbereid te wees vir elke wedstryd. Ons werk met kinders, hulle is nie professionele spelers nie, daar kan baie redes wees hoekom hulle af dae het,” verduidelik hy.
Die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks begin al vroeg in die seisoen waar Diamantveld hul titel teen Trio en Voortrekker gaan begin verdedig. Maar eers gaan hulle vir Monnas die stryd moet aansê. Daarna is dit Pretoria toe, waar hulle vir Waterkloof en Jeppe by die Noord-Suid gaan aanvat.
LEES OOK: Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks: Diamantveld die rugbyheld
Die manne van Kimberley het verlede jaar bietjie les opgesê teen Waterkloof, so daar sal hulle sake wil regstel.
Wildeklawer is ‘n tuistoernooi vir Diamantveld, hulle sal hierdie voordeel wil gebruik vir nog twee taai wedstryde teen Stellenberg en Queens College. Die wedstryd teen Stellenberg is vir Molnar amper persoonlik, met sy broer wat by dié skool afrig.
“Almal teen wie ons speel is moeilike wedstryde, ons gaan op ons beste moet wees, by die toernooie en in die Wesgrow-reeks, waar Trio, Voortrekker en Witteberg ons gaan toets,” verduidelik Molnar.
Die plaaslike derby tussen Diamantveld en Noord-Kaap vind weer soos oudergewoonte vanjaar plaas. Verlede jaar het Diamantveld met 10 punte dié wedstryd gewen. Hulle bure in die stad sal ‘n appel met hulle te skil wil hê oor dié nederlaag.
As Diamantveld hul sterk fisiese spel met vinnige tempo goed kan kombineer gaan die troepe van Kimberley groot in vanjaar se skolerugbylandskap wees.





