Die Loeriesfontein-gemeenskapsgimnasium is meer as net ’n fiksheidsentrum – dit het ‘n lewendige middelpunt vir welstand, persoonlike groei en betekenisvolle sosiale verbintenis geword.
Sedert sy opening in Desember 2024, het dié gimnasium aanhou ontwikkel tot ’n ruimte wat verandering inspireer, selfvertroue bou en gemeenskapsbande versterk. Met die onlangse toevoeging van nuwe toerusting en digitale opgraderings, is die gimnasium se daaglikse werking verbeter en ondersteun dit terselfdertyd langtermyn-volhoubaarheids- en holistiese ontwikkelingsdoelwitte.
Die gimnasium funksioneer nou vanuit ’n moderne, ruim fasiliteit en verwelkom daagliks meer as 40 gemeenskapslede – van tieners so jonk as 14 jaar tot seniors van 75 jaar. Dit bedien mans en vroue, en bring plaaslike lede van die polisie, studente, professionele persone en kontrakwerkers bymekaar om saam te oefen.
“Die Loeriesfontein-gemeenskapsgimnasium is meer as net ’n plek om te oefen – dit is ’n ruimte waar jongmense ondersteuning, mentorskap en ’n gesonde uitlaatklep vir die uitdagings van die lewe vind. Hier gaan oefening hand aan hand met emosionele welstand, wat help om die gemeenskap op alle vlakke sterker te maak,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir Loeriesfontein en Khobab-windkragaanlegte, wat die projek befonds.

Ná ‘n rekenaargeletterdheidskursus wat deur die personeel voltooi is, het die gimnasium ‘n digitale opgradering ondergaan wat ‘n skootrekenaar, drukker en digitale kantoorbenodigdhede insluit. Dit help om daaglikse administrasie te verbeter en is in lyn met die gimnasium se “groener” inisiatief, wat daarop gemik is om meer omgewingsvriendelik te word deur papierverbruik en handmatige rekordhouding te verminder.
Die gimnasium se sukses word ook gemeet aan die persoonlike groei wat dit by sy lede inspireer. Een so ’n lid is Lesane Pieters, ‘n leerling aan die Hoërskool Loeriesfontein, wat die gimnasium erkenning gee vir die ontdekking van sy potensiaal.
“Die gimnasium het my gehelp om te groei, selfvertroue te bou en mentors te vind wat regtig omgee. Die nuwe toerusting en ruimte maak dit selfs beter, en die personeel is wonderlike rolmodelle.
“My droom is om ander te inspireer soos ek geïnspireer is, en hierdie gimnasium help my om die tipe man te word waarop my ouers trots kan wees,” sê Lesane.






You must be logged in to post a comment.