Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

“Alles gaan oor die balk”, só vertel ons koshuismoeder ons daar op die Vrystaatse platteland.

Almal wat in ‘n koshuis grootgeword het, sal onthou van die koshuismoeders wat moes instaan vir jou moeder in die week. Hulle het broodjies gemaak, die kombuis bestuur, soms sommer studie-toesig gehou. Dikwels was hulle die adres van seuns se poetse en baie energie.

Maar heel dikwels, as dit laat geword het en dit is tyd vir bederf-broodjies en ekstra tee voor slaaptyd, kon ons so diep en ernstig met hulle gesels.

Die meeste van daardie koshuistannies het baie wysheid gehad, het kinders geken; meestal was die seer van die lewe aan hulle bekend.

Dit is op so ‘n aand dat ons sit en gesels dat twee laerskoolkinders die gesprek onderbreek. In trane. Hulle baklei en hulle wil nie een ingee vir die ander nie. Toe hulle weg en rustig is en die gestorte traan genoegsaam getroos is, vertel sy ons uit die Bybel: “Alles gaan oor die balk in ons eie oog.”

Dit maak dat mense nie hul eie wil kan laat gaan nie, onnodig oordeel, onnodig skerp is. Daardie aand gee sy vir ons ‘n les wat in ons vasgroei. Juis omdat sy dit so opreg oordra.

Sy vertel van die skade wat dit doen as jy neerkyk op ‘n ander, as jy dink jy is belangriker. Ons wil so fokus op die seer en die swak en die sleg van ‘n ander (eintlik maar splinters, leer sy) dat ons die balk in ons oog laat verbygaan.

Leer die balk in jou oog ken, vra sy. Gaan lees daardie teks en oefen elke dag. ‘n Mens moet dit aanleer, sê sy, om die balk uit jou eie oog te haal. Daarna eers die splinter van ‘n ander.

Lees nog rubrieke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article