a white furry dog wearing eyeglasses and sitting next to a pile of books
Ter illustrasie. FOTO: Yuliya Strizhkina /pexels.com

“Books are the ultimate Dumpees: put them down and they’ll wait for you forever; pay attention to them and they always love you back.” − John Green, An Abundance of Katherines

Boeke is beste vriende, soos honde ook is.

In boeke skuil allerhande magiese wêrelde tussen die bladsye. Of skokverhale van menswees.

Ander weer pure inspirasie.

Ons het nie net ‘n paar boeke nie; ons het baie boeke.

Vir sommige is ‘n rak vol boeke net ‘n versameling voorwerpe wat moet mooi lyk; vir ander is dit ‘n skatkis van herinneringe, drome en avonture.

Elke boek vertel ‘n unieke verhaal.

Nie net van wat tussen die bladsye staan nie, maar van ‘n oomblik toe ek dit in my hande vasgehou het.

Die dag toe ons dit gekoop of ontvang het. Die dik geskiedenisboek van universiteitsdae, ‘n kookboek van ‘n vriendin, ‘n joernaal van my oupagrootjie se dae in die Anglo-Boereoorlog, boeke van briljante skrywers wat gekoester word, die memoires van ‘n vriend.

Boeke gee altyd meer. Dit bied wysheid, insig of troos.

Dit maak nie saak hoe baie boeke ‘n mens besit nie – daar is nog altyd ruimte vir een meer.

Hoewel ons nou begin rem trap het. Ons word oud en boeke is swaar.

Die uitdaging is om die chaos van boeke te organiseer en te onthou in watter boekrak hulle skuil. Sodra jy een soek, is hy soek. Boeke het ‘n manier om in hoeke te pas waar ek nie gedink het hulle sou pas nie.

Die oorvol biblioteek is ‘n leeftyd se lees. Die ander hart van die huis.

Dit is ‘n versameling van wie ons is, waarin ons belangstel, wat ons siele verkwik.

‘n Mens kan nie genoeg boeke hê nie, net soos ‘n troeteldier wat nie genoeg liefde kan kry nie.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article