Ons begin sommer so informeel met mekaar gesels. Kinders, grootmense, almal in een groep.
Die gesprek lei spontaan na hoe ‘n warm kombers in die koue nie vanselfsprekend is nie. Die kombers is ‘n stukkie genade. En ‘n mus op die kop en ‘n trui om warm te bly. Die lysie word net langer en langer.
Ek is later verstom. Wanneer ‘n mens dink oor alles wat nie vanselfsprekend is nie, dan word ‘n mens skaam oor wat ‘n mens het. Almal het nie ewe veel nie, almal kry ook nie ewe maklik nie.
Maar elkeen van ons in die groep het genoeg dinge wat ons vanselfsprekend ag – wat nie vanselfsprekend is nie.
Beskutting teen die koue is maar een daarvan. Om te kan eet is ook nie vanselfsprekend nie. Om te mag, en te kan, werk is ook nie vanselfsprekend nie.
Ons begin daarvan ‘n speletjie maak, al in die rondte: Noem iets in jou huis, iets by jou werkplek of skool, iets in jou menswees, iets in die veranderinge van seisoene, iets wat tel as ‘n stukkie bederf, mense om jou.
Ons hou aan en aan. Wat my opval, is dat niemand verveeld raak met die speletjie nie, en niemand se idees raak op nie.
Die slotsom is dus eenvoudig: Daar is so baie dinge wat jy as vanselfsprekend kan ag, maar wat nie vanselfsprekend is nie. Jy kan soveel as moontlik temas daaraan koppel, maar jou lysie sal nie klaar raak nie. ‘n Mens het nie altyd alles wat jy benodig nie, maar jy het baie meer as wat jy oor dink.
Ons moet ‘n bietjie onthou hoe baie ons het. Ons moet ‘n bietjie daaroor nadink dat niks vanselfsprekend is nie.
Wanneer jy ‘n bietjie gaan nadink het, sê dan dankie vir al daardie dinge wat jy dikwels as so vanselfsprekend ag.
Niks is ooit vanselfsprekend nie. Onthou dit.
- Lees nog rubrieke hier.


