PAARL – Ten spyte van jare lange beplanning en hoë verwagtinge oor die uitbreiding van die Hugenote-tonnel, bly daar onsekerheid oor wanneer die noordelike tonnel uiteindelik in gebruik geneem sal word.
Die projek, wat as ’n belangrike infrastruktuurbelegging vir die Wes-Kaap beskou word, is steeds vasgevang in ’n tenderproses – met geen vaste aanvangsdatum vir die konstruksie in sig nie.
Die aansoek vir ‘n tender is reeds in Oktober 2024 geadverteer, maar nog geen aanstelling is gemaak nie. Konstruksie van dié tonnel moes verlede jaar reeds begin het.
Volgens Lwando Mahlasela, ‘n woordvoerder van Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), is die Hugenote-tonnel die “langste padtonnel in Afrika met ’n lengte van 3,9 km”.
“Die tonnel verkort die reis tussen Paarl en Worcester met 11 km en is die voorkeurroete vir motoriste en vragverkeer op hierdie belangrike vervoerkorridor. Ongeveer 14 000 voertuie beweeg daagliks deur die tonnel, waarvan sowat 2 700 (19%) swaarvoertuie is. Die tonnel is die afgelope 38 jaar in gebruik en meer as 132 miljoen voertuie het reeds deur die Hugenot-tonnel beweeg.”
LEES OOK: Geen aanvangsdatum vir bou van noordelike Hugenote-tonnel nie
Die totale verkeer deur die tonnel in een jaar beloop 5 073 413, volgens Mahlasela.
Oor die bergpas is die totale jaarlikse verkeer 413 007 voertuie, met ’n gemiddelde daaglikse verkeer van 1 154 voertuie, waarvan 385 (33%) swaarvoertuie is. Altesaam 92% van die korridor se verkeer gebruik die tonnel, terwyl 8% oor die bergpas reis. Wat swaarvoertuigverkeer betref, gebruik 87% die tonnel en 13% die bergpas.
Die ingebruikneming van die noordelike boorwerk behels onder meer die aanbring van ’n betonvoering, padoppervlak, ventilasie, beligting en tonnelbestuurstelsels. Sodra dit in gebruik gestel is, sal verkeer na die noordelike tonnel verskuif word, terwyl die suidelike tonnel tot dieselfde internasionale standaarde opgegradeer sal word.
Mahlasela het in November 2025 aan Paarl Post verduidelik dat konstruksie van die noordelik tonnel, wat die staat na beraming, R4,5 miljard uit die sak sal jaag, na verwagting vyf jaar sal duur nadat ‘n tender toegeken is.
LEES OOK: Tunnel sees jobs, growth
Barbara Creecy (die nasionale minister van vervoer), Reginald Demana (die uitvoerende hoof van Sanral), Isaac Sileku (Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit) en Stephen Korabie (burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit), het die tonnel in 2024 besoek.
Creecy het destyds aan die koerant gesê dat die konstruksie van die noordelike tonnel ongeveer 500 werksgeleenthede sal skep.Volgens haar vorder die tolhek ongeveer R450 miljoen per jaar in en kos dit die staat ongeveer R60 miljoen om die tolhek te bestuur.
“Daarom glo ons [die departement van vervoer] dat dit finansieël haalbaar en volhoubaar sal wees om die padtoestande hier te verbeter sonder om die basislyn-tolgeld te verhoog,” het Creecy gesê.
Creecy het ook padgebruikers verseker dat die bouwerk minimale ontwrigting vir verkeer sal veroorsaak wanneer konstruksie aan die noordelike tonnel begin.




