KURUMAN – Vyf mans wat van die moord op ‘n bekende prokureur van Kuruman verdink word, het Vrydag 27 Junie weer in die landdroshof in dié Noord-Kaapse dorp verskyn nadat hulle in hul eerste verskyning Donderdag aangedui het hulle soek nog na ʼn regverteenwoordiger.
Die mans word verdink van die moord op Katlego Moribe (38). Van hulle is Maandagaand 23 Junie in Noordwes ná ’n uitgebreide polisie-klopjag in boeie geslaan.
Hulle is Mothusi Sekwati, Onthible Moncho, Lebogang Tshidisi, Kalakgosi Mosala en Mohau Kgosiencho.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê hulle word van die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en regsverydeling aangekla.
Moribe is op 1 Junie in Blok A, huis nr.12 by die Assegaai-hostel in Seoding buite Kuruman doodgeskiet. Volgens ingeligtes is hy van voor en agter geskiet.
Benewens sy regspraktyk het Moribe ook Moribe Tombstones en Moribe Funerals in die dorp besit, maar sy begrafnisdiens op 14 Junie is op luisterryke wyse in ’n swart-en-goud tema deur Rekathusa Funeral Parlors in Kuruman behartig.
Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die verdagtes is deur ‘n suksesvolle samewerkingspoging tussen die polisie in die Noord-Kaap en Noordwes aangekeer.
Ehlers sê ná ‘n intensiewe ondersoek het lede van die Noord-Kaapse misdaadintelligensie-eenheid, in samewerking met misdaadintelligensie in die Noordwes, Mahikeng taktiese reaksiespan en die Vryburg openbare orde-polisiëring, ‘n gekoördineerde, intelligensie-gedrewe operasie in Ganyesa in die Noordwes gedoen.
Oorledene ‘omstrede’
Moribe was ʼn omstrede figuur. In 2025 is hy in ʼn bestraffende kostebevel beveel om R1,9 miljoen aan ‘n voormalige kliënt te betaal nadat die kliënt ʼn suksesvolle eis teen die Padongelukkefonds ingedien het. Moribe het nooit die geld in haar rekening betaal nie, waarna sy die hooggeregshof in Pretoria deur ʼn nuwe regsverteenwoordiger genader het.

In haar uitspraak noem regter E. van der Schyff dat die kliënt ook ‘n klag teen Moribe by die Regspraktykraad (LPC) in Kimberley ingedien het. Hoewel nadelige bevindinge daarna deur die LPC teen Moribe gemaak is, is dit onduidelik of hy daarna geskors is en of enige dissiplinêre stappe deur die LPC geneem is.
Moribe was voorheen ook in die nuus nadat hy vir Enrich Williams en Amantle Bareki in die opspraakwekkende Pofadder-moordsaak opgetree het.
Suretha Brits van Pofadder het haar man, Leon Brits, in Oktober 2020 by hul huis laat vermoor deur ’n vriend, Jacques van Vuuren, te huur. Van Vuuren het op sy beurt vir Williams en Bareki by die moordkomplot betrek. Williams en Bareki is in 2022 aan die moord en roof skuldig bevind en is lewenslange vonnisse opgelê. Brits en Van Vuuren wat pleitooreenkomste met die staat aangegaan het en mindere vonnisse van onderskeidelik 25 en 20 jaar gevangenisstraf opgelê is, het teen hulle getuig.
Moribe was ook verlede jaar in die nuus nadat hy Lloyd Leoko, die munisipale bestuurder van die Ratlou-munisipaliteit in Setlagole, Noordwes, beledig het deur te sê “hy het matriek met baie swak simbole behaal”.
Die kantoor van die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het vroeër bevind die munisipaliteit het die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en werwingsprosesse oortree met die aanstelling van verskeie senior bestuurders, insluitend Leoko. Die munisipaliteit het ‘n sperdatum van drie werksdae gekry om verskeie besluite reg te stel.
City Press het ook berig dat Leoko “matriek gedruip het en vier F’e in ses van sy skoolvakke behaal het”. Hy was in die nuus nadat die munisipaliteit 22 skootrekenaars aangekoop het wat R927 000 gekos het.
Verdagtes soek ná koeëlreën
In ʼn ander voorval wat vier dae ná die skietery op Moribe plaasgevind het, is Sydney Majola (36) by ‘n sakeonderneming in Magojaneng Village buite Kuruman in ʼn koeëlreen doodgeskiet.
Dit is onbekend of die twee voorvalle verwant is, en die polisie soek nog na Majola se skieters.
Enigiemand wat inligting het wat die polisie met die ondersoek kan help, kan die waarnemende stasiebevelvoerder van Mothibistad, kapt. Nomvuyo Makoloi by 082 373 9947 of die speurbevelvoerder, kapt. Sethunya Letshwiti by 082 374 0392 of die polisie se misdaadlyn by 08600 10111 bel, of die MySAPS app gebruik.

You must be logged in to post a comment.