‘n Aanval op ‘n boer in die Kestell-distrik het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en drie verdagtes is steeds op vrye voet.
Op Donderdag 26 Junie is Johan van Biljon (70), wat in die Kestell-distrik boer omstreeks 19:30 deur drie mans in sy huis op die plaas oorrompel en aangeval. Die verdagtes het toegang tot die huis verkry terwyl Van Biljon alleen was.
Hy is erg aangerand en is vasgebind terwyl die verdagtes die huis geplunder het. Hulle het verskeie items insluitend vuurwapens, selfone, kontant, klere, elektroniese toestelle, kruideniersware en drank op Van Biljon se Toyota Hilux bakkie gelaai.
Van Biljon kon daarin slaag om homself te bevry en het na ‘n naburige plaas gehardloop vir hulp waarna die owerhede gekontak is.
Van die gesteelde items, wat ‘n vuurwapen insluit, is later deur die polisie in Van Biljon se bakkie gevind. Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug en is steeds voortvlugtend.
Van Biljon het ernstige kopbeserings opgedoen en het mediese hulp ontvang. Die polisie se ondersoek duur voort en ‘n beroep word op die publiek gedoen, wat inligting oor die voorval mag hê, om hulle dringend te kontak. Bel kol. Ben Bolsiek by 082 466 8530, of die naaste polisiekantoor of Crime Stop by 086 00 10111. Inligting kan ook anoniem op die MySAPS-toepassing verskaf word.
“Ons wil mense aanmoedig om baie oplettend en waaksaam te wees. Skakel in by ‘n veiligheidsgroep in jou streek om sodoende misdaad te help bekamp,” sê Jakkals le Roux van Vrystaat Landbou.