Die drie verdagtes wat vir die plaasaanval op ‘n boer in die Kestell-distrik gesoek word is steeds op vrye voet en die polisie doen ‘n dringende beroep op enige iemand wat inligting mag hê om hulle dadelik te kontak.
Johan van Biljon (70) is op Woendag 26 Junie op sy plaas in die Kestell-distrik omstreeks 19:40 die aand deur drie mans in sy huis oorrompel en aangerand.
Van Biljon wat vroeër die aand by vriende op die dorp geëet het, sê hy was omstreeks 19:30 tuis en is om 19:40 aangeval deur die verdagtes wat hom ingewag het.
Van Biljon het niksvermoedend voor die televisie gaan sit toe hy deur die drie mans van agteraf oorval en geslaan is.
“Ek het eers gedink die lamp het omgeval en my teen die kop getref, maar toe die begin houe reën het ek geweet ek word aangeval.”
Die vermeende aanvallers het hom toe met tou aan die houtbanke in die televisiekamer vasgebind. “Hulle het my geweldadig aangerand vir bykans vier ure lant tot na middernag. Intussen het hulle die huis geplunder en verskeie items op my bakkie gelaai wat ek vermoed hulle wou steel. Ek het kalm gebly en gedoen wat hulle gevra het.”
Die verdagtes het vuurwapens, selfone, kontant, klere, elektroniese toestelle, kruideniersware en drank op sy bakkie gelaai.
Omstreeks middernag kon Van Biljon homself los wikkel waarna hy na sy kamer gegaan het en homself toegesluit het. Op daardie stadium was hy nie seker waar sy aanvallers hulle bevind nie. Hy het die jaggeweer uit die kluis gehaal en deur sy kamervenster ontsnap. Kaalvoet het hy vir 2 km in die donker na die bure se plaas gevlug om hulp te kry.
Toe hy uiteindelik by die bure se plaas aankom het hulle dadelik die sekuriteit en owerhede ontbied. Van Biljon se vrou het ten tye van die voorval by haar dogter in Bloemfontein gekuier.
“Ons het dadelik die sekuriteitstelsels op die plaas verskerp en is natuurlik baie meer paraat.”
Jane Buys van Vrystaat Landbou, het bevestig dat die saak steeds deur die polisie ondersoek word. Kapt. Lorraine Earl, woordvoerder van die polisie, vra die publiek indien hulle enige inligting rakende die aanval het om kol. Ben Bolsiek by 082 466 8530 te bel. Of dit by die naaste polisiekantoor te rapporteer. Die publiek kan ook die Crime Stop nommer by 08600 10111 skakel of inligting kan anoniem op die MySAPS-toepassing verskaf word.



