Die prentjiemooi dorpie Montagu het vandag vir die derde jaar weggestap met die titel as “Best Dorpie” in die jaarlikse Kfm Best of the Cape-toekennings. Sy buurman, Robertson, is in die tweede plek.
Montagu het ook die toekenning in 2021 en in 2025 ontvang. Die toekenning is gemaak nadat die publiek vir vyf finaliste kon stem. Vanjaar se finaliste was Darling, Greyton, Montagu, Robertson en Yzerfontein.
Mareletta Mundey, toerismebestuurder van Montagu-Ashton Toerisme-vereniging, sê dat die vreugdevure hoog brand. “Ons is ‘n gemeenskap wat saamstaan en die ondernemings werk baie mooi saam om die dorp te bemark en verbeter.”
Dié samehorigheid wys duidelik in hul toerismesyfers. Desember was ‘n rekordmaand met 50 000 besoekers wat oorgeslaap het. “Elke maand tot dusver hierdie jaar was ‘n rekordmaand. In Julie vanjaar het ons 39 000 besoekers gehad,” het Mundey gesê.
“Ons kry terugvoer dat besoekers die dorp as vriendelik en gelukkig ervaar. Ons is baie geseënd dat ons in een van die mooiste plekke kan woon.”
Sy skryf die baie stemme wat hulle ontvang het toe aan vorige besoekers wat hulle gesteun het.
Montagu is ‘n dorp wat sy plattelandse hart behou het. Sy historiese geboue, talle aktiwiteite en die warm ontvangs laat besoekers gereeld terugkeer. Sy inwoners huiwer nie om hande te vat ter wille van die dorp nie. In die afgelope jaar het inwoners ingespring om ondersteuning aan brandspanne te verleen tydens daelange brande wat in die berge gewoed het. Tydens die vloede vroeër vanjaar is Montagu nie so hard getref nie, maar sy inwoners het uitgereik om buurdorpe te help met kos en klere.
Ook tydens die Cape Epic-bergfietskompetisie was die inwoners hard aan die werk om als in plek te kry vir die duisende gaste wat die dorp besoek het. Dit het vrugte afgewerp en die Cape Epic het Montagu aangewys as die beste dorp en dorp met die beste roetes tydens vanjaar se byeenkoms.
“Almal werk met soveel trots sonder enige bybedoelings en dit strek tot voordeel van almal in die gemeenskap,” het Mundey gesê.





