Worcester Standard & Breederivier Gazette

Minister kyk na watersekerheid in Langeberg weens groeiende inwonerstal

Langeberg se burgemeester, Schalk van Eeden, minister Anton Bredell en die raadslid JC Coetzee tydens die minister se besoek om ondersoek in te stel na watersekerheid in die munisipaliteit.
Worcester Standard & Breederivier Gazette

Minister kyk na watersekerheid in Langeberg weens groeiende inwonerstal

Langeberg se burgemeester, Schalk van Eeden, minister Anton Bredell en die raadslid JC Coetzee tydens die minister se besoek om ondersoek in te stel na watersekerheid in die munisipaliteit.

Langebergers is dankbaar vir die reën ná kommer oor damme se lae watervlakke en droë krane.

Inwoners van Montagu moes onlangs baie spaarsaming met hul water werk ­nadat die hooftoevoerpyp na die watersuiweringsaanleg gebars het.

Die aanleg het noodgedwonge tot stilstand gekom en inwoners is gewaarsku om geen onnodige water te gebruik nie. Dit is intussen herstel.

Waterverskaffing aan dié dorp was een van die besprekingspunte tydens Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsae en ontwikkelingsbeplanning, se besoek aan die Langeberg-munisipaliteit in April om na watersekuriteit in die omgewing te kyk.

“Die Langeberg-omgewing se inwoners­tal en ekonomiese groei het die afgelope paar jaar met sowat 3% gegroei, wat toenemende druk op die munisipaliteit se vermoë om basiese dienste te lewer, plaas,” het hy gesê.

Volgens die departement steun die munisipaliteit se vermoë om watersekuri­teit vir die dorpe Robertson, Ashton, McGregor en Montagu te verseker, grootliks op wateronttrekking uit die Breederivier. “Die munisipaliteit is tans in die finale fase om bykomende wateronttrekkingsregte van 120 liter per sekonde uit die Breederivier te bekom, wat die langtermyn-waterverskaffing aan die dorpe sal verbeter,” het die departement in ‘n verklaring gesê.

Dassieshoekdam vergroot

“Die Dassieshoekdam in Robertson, wat deur reënwater aangevul word, dien as ‘n buffer gedurende piek verbruikerstye. Die dam het egter die afgelope seisoen opgedroog, wat die munisipaliteit se water­verskaffingstelsel onder druk geplaas het.” Die departement van plaaslike regering sal R1,8m bestee om voorbereidingswerk te doen om die dam se inhoudsvermoë met 30% te verhoog.

Die departement sal ook die munisipaliteit help om finansiering vir die konstruksiefase te bekom. ‘n Boorgat sal ook gesink word om Robertson se water aan te vul.

Die munisipaliteit oorweeg ook om boorgate in Montagu te sink. Volgens die departement is die waterpyplyn wat water van die Breederivier in Ashton na Montagu vervoer, verouderd. Om waterbronne nader aan die dorp te vind, sal volgens die munisipaliteit meer kostedoeltreffend wees as om die bestaande pyplyn te onderhou en uiteindelik te moet vervang.

Volgens Daniël Lubbe, die munisipale bestuurder, is hulle besig om diensverskaffers aan te stel om ‘n studie van die beskikbare waterbronne in die dorp te doen. “Waterverskaffing in Montagu is deel van ‘n langtermyn-beplanningsproses. Die voorgestelde pyplyn na die water­suiwerings­aanleg is nie ‘n korttermyn-ingryping nie.” Die dorp ontvang ook water van die Cogmanskloof-besproeiingskema. Beperkte volumes word ook uit die Riet­vlei-besproeiingslyn en Kruislyn verkry.

“Die munisipaliteit bestuur ‘n waterverskaffingstelsel wat as gevolg van ­bevolking- en ekonomiese groei baie naby aan sy volle vermoë is. Om toekomstige watersekerheid te verseker, word twee optredes vereis – ‘n volgehoue belegging in infrastruktuur en goeie waterbestuur deur die munisipali­teit. Inwoners en sakeondernemings moet water spaarsamig gebruik en besef dit is skaars,” het Bredell gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article