So vinnig soos die “tap” van ‘n bankkaart is die eerste maand van 2026 verby. Januarie was geensins ‘n vlugvoetige maand nie, want vloede, droogte, bek-en-klouseer, en verlede jaar se laaste uitgawes, bekommernisse en onafgehandelde lysies is saam deur hierdie eerste hittige maand geabba.
Boonop, vir diegene wat (onrealistiese) nuwejaarsvoornemens beoefen, is Januarie die maak-of-breek maand waarin jy gou genoeg agterkom dat ‘n jakkals (of jyself) wel van hare kan verander, maar nie van streke nie.
Of dat ‘n boompie (of gewoonte) nie aldag so maklik verander word nie.
Heel dramaties en gepas word die eerste aand van Februarie met ‘n sogenaamde Sneeumaan ingelei (soos ‘n mens kan vermoed het dié naam in die noordelike halfrond tot stand gekom).
Met die hittegolf wat onverpoos oor ‘n groot deel van die Noord-Kaap voortduur, kan ons die Sneeumaan in dié geweste eerder die Smeltmaan noem.
Omdat ons in Januarie nog te geneig was om agtertoe te kyk, kan ons in Februarie sekuur vorentoe na die onbekende op die horison mik. Volgens numerologie – vir diegene wat hulle wel daaraan wil steur – dui die jaartal 2026 op nuwe begin, leierskap, vernuwing en die neem van dapper, beslissende optrede.
In die Chinese diereriem is dit die jaar van die Vuurperd, en dit simboliseer spoed, passie, onafhanklikheid en die behoefte om nuwe geleenthede, projekte en sosiale verbindings met motivering en kreatiwiteit te omarm.
Om Februarie se deugde verder te besing, is dié maand boonop baie netjies op die kalender uiteengesit, met presies vier dae vir elk van die sewe weeksdae.
Volgens ‘n artikel wat in die New York Times verskyn het, is Februarie die beste maand om met voornemens vorendag te kom.
Studies dui aan dat Januarie te veel druk bevat, terwyl die waas van die feestyd nog oor jou hang.
Boonop dui die studies aan dat mense Januarie eintlik as ‘n tydperk gebruik om asem te skep omdat die jaareind-malheid ‘n mens se psige in die veg-of-vlug-toestand plaas.
“Our primitive nervous systems don’t know the difference between encountering a bear in the woods and feeling the stress of too much family time,” skryf ene Renée Fishman hieroor in My Meadow Report.
Januarie se bus het vertrek, maar Februarie s’n staan nog by die halte.
Laat ons opklim en die roete van 2026 met ‘n oop en kalme gemoed aanpak.





