Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Die grootste persentasie van die biljoene mense op aarde lees en skryf elke dag sonder om die vryheid en bemagtiging wat dit bied, te besef.

Ongeag vooruitgang op vele terreine het nagenoeg 739 miljoen jongmense en volwassenes oor die wêreld heen geen of slegs basiese geletterdheidsvaardighede. In 2023 het ongeveer 272 miljoen jong mense van skoolgaande ouderdom nie skool bygewoon nie.

Met Internasionale Geletterdheidsdag wat op 8 September plaasgevind het, was die klem opnuut op die belangrikheid om te kan lees en skryf. Mense wat nie kan lees en skryf nie, kan nie die etiket van ‘n medisynebottel, ‘n kennisgewing of padaanwysing lees, of ‘n werkaansoek invul nie.

Wanneer iemand wat ongeletterd is selfs net sy naam leer skryf het, is die vreugde en trots om die eerste keer sy naam op ‘n vorm te kan skryf − en nie net ‘n kruisie trek nie − hartroerend.

Geletterdheid is sentraal in die bevordering van kritiese denke en die inwin van meer inligting.

Die Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) sê deur geletterdheid te bevorder word armoede verminder. Op sy beurt het dit onder meer ‘n positiewe invloed op gesondheid en leefstyl. Ongeveer twee derdes van volwassenes wat ongeletterd is, is vroue. Deur geletterheid raak hulle van meer en beter lewenskeuses bewus, en dit het ‘n direkte invloed op die gesondheid- en opvoedingsgebruike in ‘n gesin.

Vanjaar is Internasionale Geletterdheidsdag met die tema “Bevordering van geletterdheid in die digitale era” gevier.

Belanghebbendes sê digitalisering het die manier waarop ons leer, leef, werk en sosiaal verkeer positief én negatief verander, afhangend van hoe daarmee omgegaan word.

Maar met die gebruik van digitale funksies wat op elke aspek van die lewe toeneem, raak die agterstand van ongeletterdes groter.

Dink aan vorms wat aanlyn ingevul word vir skool- of werkaansoeke; digitale bankdienste; of noodsaaklike inligting in ‘n gemeenskap wat op onder meer WhatsApp-groepe gedeel word.

Ene Fredercik Douglass het geskryf: “Once you learn to read, you will be forever free”, en Kofi Annan het gesê: “Literacy is a bridge from misery to hope.”

Elkeen wat hier lees: Dink hoe jy iemand wat dit nié kan doen nie, of wat nie toegang tot boeke het nie, op hierdie brug na hoop kan help.

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article