LANGEBAAN – Die vermeende verkragting van ‘n driejarige kleuter het verlede week skokgolwe deur die Seaviewpark-buurt gestuur.
Dié gewelddadige voorval op Woensdag 14 Oktober is vir inwoners onaanvaarbaar.
’n Besorgde inwoner het aan Weslander gesê die dogterjie is in ’n bebloede toestand na die Vredenburg Provinsiale Hospitaal geneem en die volgende dag geopereer. “Dit is ‘n euwel, dis ‘n hartseer. Dit is onaanvaarbaar vir ons as gemeenskap.”
Die 21-jarige verdagte in die saak is die volgende dag, op Donderdag 15 Oktober, deur die Vredenburgse kinderbeskermingseenheid in hegtenis geneem en het Maandag 19 Oktober in die Hopefield-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting.
Inwoners beweer dat ʼn familielid na die kleuter moes gekyk het ten tyde van die voorval. Wat die gemeenskap nie kan verstaan nie, is waarom omliggende bure nie die kleuter se noodkrete gehoor het nie. “Ek kan nie verstaan en glo dat niemand haar gehoor skree het nie. Seaviewpark is maar net só groot en ons huise is letterlik bymekaar, so ek weet nie … want hoe pynlik was nie dit vir haar as ‘n driejarige kind nie.”
Die gemeenskap eis geregtigheid. “Ons as gemeenskap was baie baie geskok oor die insident. Ons sal maar net vertrou en hoop dat daar meer antwoorde uitkom rondom dit alles.”
Die beskuldigde, wie se naam aan Weslander bekend is, verskyn weer op Dinsdag 27 Oktober. Volgens Artikel 154(2)(b) van die Strafproseswet 51 van 1977 mag hy eers geïdentifiseer word nadat hy in die hof op die aanklag gepleit het.



