Die man wat Maandagoggend op ‘n brandende slagoffer van geweld in Bishop Lavis afgekom het en sodoende sy lewe gered het, voel dankbaar maar is steeds geskok oor die gebeure.
Marlon Bates (skuilnaam) was omstreeks 05:00 onderweg huis toe nadat hy kliënte by die lughawe afgelaai het. Hy ry toergroepe rond en sy volgende groep sou eers omstreeks 10:00 opdaag en daarom was hy weer op pad huis toe.
“Toe ek naby die huis kom het ek hierdie bondeltjie klere sien brand, maar toe ek nader kom het ek gesien dit is ‘n mens wat daar lê. Hy kon nie beweeg nie. Toe ek nader kom om die vuur rondom en aan hom te blus het ek gesien hy is gesteek ook. Ek het ‘n boodskap op die misdaadvoorkomingsgroep gestuur en by hom gewaak, want ek wou nie aan hom raak nie omdat ek nie geweet het waar hy nog seergekry het nie,” sê Bates.
Skree om hulp
Terwyl hy gewag het, het die man begin skree van die pyn en om hulp geroep.
“Ek het probeer om hom kalm te hou en het gevra wie hom seergemaak het. Hy het gesê hy is uit ‘n taxi gegooi en vertel saam met wie hy was. Ek kon nie uitmaak wie dit was nie. Intussen het bure uitgekom en iemand het uitgewys waar sy ma bly en sy het haar na die toneel gehaas,” sê Bates.
Volgens Bates moet hy nie as ‘n held beskou word nie, want hy glo dit was die Here se wil om hom op daardie oomblik daar te laat verby ry. “Ek dank die Here dat ek op die regte tyd op die regte plek kon wees. As ek daaraan dink is ek net bly ek kon een ouer die trane spaar,” sê hy.
Amanda Davids van die Bishop Lavis Crime Prevention Forum (BLCPF) sê dit is hartseer dat sulke dinge in hul gemeenskap gebeur. “Hoe kan mense sulke dinge aan mekaar doen? Ek wens die slagoffer word gou gesond en doen ‘n beroep op die gemeenskap indien hulle oor inligting oor die voorval beskik, hulle dadelik die polisie sal kontak,” sê Davids.
Die polisie het bevestig dat ‘n saak van poging tot moord ondersoek word.





