Weslander

Malmesbury Koringboere is top in Boland Promosie Wes‑liga (W)

Brady Lewis behaal driekuns teen Wolsley - Foto krediet Manfred (Manny) Mentoor
Brady Lewis behaal driekuns teen Wolsley – Foto krediet Manfred (Manny) Mentoor

Die Malmesbury Koringboere het hul greep op die top van die Boland Promosie Wes‑liga verder verstewig met ’n indrukwekkende derde agtereenvolgende oorwinning. In ’n dominante vertoning op Wellington se Sportgronde op Saterdag, 17 Januarie, het die Koringboere Bergrivier met vyf paaltjies verslaan en hul posisie as liga‑leiers bevestig.

Nadat hulle die loot gewen het, het kaptein Donovan Dudley besluit om eerste te boul, ’n keuse wat gou bewys het dat dit die regte taktiese skuif was. Die Koringboere se boulers het van die eerste aflewering af groot druk op Bergrivier geplaas en die besoekers tot slegs 113 almal uit in hul toegelate 50 boulbeurte beperk. Edwin Amerika was in ’n verwoestende bui en het in sy nege boulbeurte ’n ongelooflike 8 paaltjies vir net 18 lopies geneem. Sy spel was die kern van die tuisspan se oorheersing. Davan Folding het waardevolle ondersteuning gebied met twee paaltjies wat die laaste weerstand van Bergrivier finaal gebreek het.

Brady Lewis behaal driekuns teen Wolsley. Foto: Manfred (Manny) Mentoor
Brady Lewis behaal driekuns teen Wolsley. Foto: Manfred (Manny) Mentoor

Met ’n relatief beskeie teiken op die bord het die Koringboere se kolwers kalm en berekend te werk gegaan. Die openingspaar het ’n stewige fondasie gelê en kaptein Dudley het self ’n goeie 33 lopies bygedra. Sy innings het die stabiliteit gebied wat die res van die kolfbeurt nodig gehad het. Dwayne Scheepers het met ’n onoorwonne 22 lopies die oorwinning verseker en die span se wenreeks verleng. Die Koringboere se dissipline en balans tussen kolf en boulwerk het duidelik gewys waarom hulle bo‑aan die liga pryk.

Intussen het buurman Darling Melkboere in Darling op die Gabriel Pharoah‑sportterrein gewys dat hulle ook ’n mag is om mee rekening te hou. Teen die Wolsley Amandelboere was die Melkboere eenvoudig onkeerbaar. Nadat hulle die loot verloor het en ingestuur is om eerste te kolf, het die Melkboere se kolwers ’n indrukwekkende 237/7 in hul 50 boulbeurte aangeteken. Sergio Rooms was in vernietigende vorm en het 96 lopies van 122 balle gemoker. Kaptein Jevon Cloete het met 52 lopies die druk verder op die besoekers geplaas, terwyl Fernin Hoogbaard ’n vinnige 30 lopies bygevoeg het om die telling af te rond.

Die Amandelboere se jaagtog is vinnig tot stilstand gebring deur Brady Lewis, wat met uitmuntende medium aflewerings 7 paaltjies vir net 10 lopies in sy 10 boulbeurte laat kantel het. Sy aflewerings het die besoekers se hoop finaal geknou. Lathan Beukes (1/22) en Damelin Stringer (0/12) het Lewis uitstekend ondersteun en die Melkboere se 175‑lopie oorwinning verseker.

Met die Koringboere wat die too naan gee in liga en die Melkboere wat duidelik op die opmars is, beloof komende  Saterdag, 24 Januarie se botsing tussen die twee bure op Dieprivier Sportterrein een van die grootste kragmetings te wees. Die tafel is gedek vir Galypso-krieket en ondersteuners kan uitsien na ’n wedstryd vol vonke wat behoorlik gaan spat.

Wedstryd bepalings vir Saterdag 24 Januarie – Boland Promosie Wes-Liga

Malmebury t. Darling, Piketberg t. Tulbagh,Hopefield Wanderers t. Drakenstein Edu en Essex t.Bergrivier.

Sondag 25 Januarie- Gabriel Pharo Sportgronde – Boland Promosie Wes T20 -liga

Darling B t Malmesbury B – 10:00

Darling B t Malmesbury B – 14:00

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article