PAARL – Ses-en-twintig jaar nadat Marais Erasmus as witjas op klubvlak begin aantree het, het hy Saterdag (21 Maart) in sy heel laaste wedstryd in Paarl se Boland Park gestaan. Hierdie laaste taak as skeidsregter was vir ‘n wedstryd tussen Goldrush Boland en DP World Lions.
Erasmus het twee jaar gelede sy uittrede uit internasionale skeidsregterskap aangekondig nadat hy sedert 2006 op internasionale vlak in dié hoedanigheid aangestel is. Hy is in 2010 opgeneem in die elite-paneel van die wêreld se topskeidsregters en is tydens sy termyn deurentyd geloof vir sy kalmte en konsekwentheid op en van die veld. Hy was drie keer die ontvanger van die David Shepherd-trofee as beste krieketskeidsregter ter wêreld: in 2016, 2017 en 2021.

LEES OOK: Skeidsregter van 2021
Erasmus en sy vrou Adele, beide oud-onderwysers van Laerskool Swartland op Malmesbury, het verlede jaar na Hermanus verhuis. Hulle het Saterdag se wedstryd saam met vertroude krieketvriende geniet, waar daar gereelde terugblikke was op Erasmus en sy gesin se hoogte- en laagtepunte van die afgelope 26 jaar.
“Nou is ek afgetree. Ek sal steeds as mentor optree wanneer jong skeidsregters daarvoor vra, maar Saterdag se wedstryd was my laaste een op die veld,” het Erasmus (62) verklaar.

- Die Lions, met Delano Potgieter (91 lopies) as kaptein, het Boland met 34 lopies geklop. Lions was 242/7 na 50 boulbeurte; Boland is ná 48,4 boulbeurte vir 208 lopies uitgeboul.




You must be logged in to post a comment.