Die landdros in die borgtogaansoek van die twee Paarlse klubrugbyspelers het vandag (2 Junie) beslis dat sy nie van die saak sal onttrek nie, waarna die borgtogaansoek voortgesit is.
Landdros Marti Wilson het vandag uitspraak gelewer op die staat se aansoek, wat op 27 Mei gebring is, dat sy haar van die saak moet onttrek.
In haar uitspraak het Wilson gesê die staat, verteenwoordig deur die streeksaanklaer, adv. Hamley Marquard, moes bewys dat die hof bevooroordeeld is.
Sy het bevind dat voldoende gronde vir ‘n bevinding van vooroordeel nie voorgehou is nie en het gevolglik geweier om haar aan die saak te onttrek.
Marquard het toe aangedui dat die staat binne sewe tot 10 dae ‘n aansoek sal bring in die Hooggeregshof in Kaapstad dat die saak hersien moet word.
Die verdediging, verteenwoordig deur Elton Rochert van Elton Rochert Attorneys in Kaapstad, het vervolgens die hof versoek om die borgtogaansoek voort te sit, spesifiek die kruisondervraging van kol. Winston Pegram van die Paarlse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS), wat Wilson toegestaan het.
Die staat het egter sy beswaar laat aanteken en aangevoer dat hy nie aan die verrigtinge kan deelneem nie omdat “enige voortsetting van die saak ‘n billike verhoor sal belemmer”.
Rochert het sy ondervraging van Pegram voortgesit en gevra of kringtelevisiebeeldmateriaal van die studentehuis toon dat die klaer ná die beweerde verkragting ander klere aangehad het toe sy die twee beskuldigdes by die woning uitlaat as toe sy saam met hulle daar aangekom het. Pegram het bevestig dat die beeldmateriaal wel wys dat sy ná die beweerde voorval ander klere aangehad het.
Rochert het verder gevra of daar enige getuieverklarings is van persone wat die beweerde verkragting aanskou het. Pegram het geantwoord dat daar nie sulke verklarings is nie.
Die verdediging het daarna die hof se aandag gevestig op WhatsApp-kommunikasie wat as bewysstuk tussen die klaer en ‘n vriend van die 23-jarige beskuldigde ingedien is.
Volgens Rochert is slegs gedeeltes van die WhatsApp-gesprek deur die staat ingedien, terwyl die verdediging intussen die volledige gesprek ontvang het.
Hy het Pegram versoek om ‘n spesifieke boodskap, wat nie deel van die oorspronklike bewysstukke was nie, maar onlangs deur die verdediging ontvang is, voor te lees.
Die staat het beswaar aangeteken en aangevoer dat die kommunikasie nie geverifieer is nie. Wilson het daarop die verdediging die geleentheid gegee om die egtheid daarvan te verifieer en tydens die volgende hofverskyning dit voor te lees.
Die hof het kort daarna verdaag en die saak tot 5 Junie uitgestel. Die verdediging het voorgestel dat die verrigtinge reeds môre (3 Junie) hervat, maar Marquard het aangevoer dat hy nie beskikbaar is nie.
Rochert het daarop aangevoer dat ‘n ander staatsaanklaer, Melissa van der Byl, teenwoordig is en die saak in Marquard se afwesigheid kan behartig. Marquard het egter geantwoord dat die verdediging nie aan die staat kan voorskryf watter aanklaer beskikbaar gestel moet word nie.
Die twee klubrugbyspelers, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, staan tereg op vier aanklagte van verkragting van ’n 21-jarige student aan die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT).
Die student is na bewering in die vroeë oggendure van 27 April in haar kamer by ’n studentehuis vier keer verkrag nadat die beskuldigdes haar glo ’n saamrygeleentheid vanaf ’n nagklub in Newton in Wellington na haar studente-akkommodasie gegee het.
LEES OOK: Staat wil aansoek bring vir landdros se onttrekking aan verkragtingsaak
Die 23-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n bekende rugbyklub in die Boland, maar sou op 3 Mei by ‘n nuwe rugbyklub in Limpopo aansluit.
Die 28-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n rugbyklub in die Swartland-distrik.
Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.
Die naam van die klaer word ook ingevolge dieselfde wet weerhou.




