Drie van die Laerskool Rietenbosch se top-krieketspelers maak gereed om aan die Boland T20-toernooi deel te neem en glo hierdie is slegs die begin van hul krieketloopbane.
Die gr.7-leerders Shailo Fritz en Thatim Carstens en hul spanmaat Mary-Jean February (gr. 6) is in Mei vir die Overberg Eagles se o.13-meisieskrieketspan gekies.
Dié drie het verlede naweek hul eerste oefening saam met die res van die o.13-hardebalspan by Paul Roos Gimnasium gehad.
LEES OOK: Jong veelsydige krieketspeler van Lanquedoc vereer

Passie gekweek
Volgens hul afrigter, Jordan-Leigh Februarie, het dit ‘n rukkie geneem om die belangstelling in krieket, veral onder die meisies, aan te wakker. Nou getuig dié drie se opname in die Overberg Eagles van hul harde werk en passie vir die spel.
“My grootste strewe is om ‘n liefde vir krieket by die skool te ontwikkel. Met tyd het die program gegroei en hulle het aanhou opdaag. Dit was belangrik vir my om die oefeninge prettig te hou. Ek hoop dat die skool weer welbekend vir krieket sal wees,” sê Februarie, wat self as leerder by Rietenbosch die o.13-span gelei het.
Shailo en Mary-Jean speel reeds sedert gr.3 krieket en Thatim, oorspronklik van die Weskus, sê haar passie vir die spel is in Vredenburg aangewakker toe sy met maats gespeel het.
Nou boul Shailo saam met die bestes. Haar gunsteling-geluid is om die paatljies van haar teenstanders te hoor spartel. Mary-Jean geniet veral die boulwerk. In haar beste vertoning het sy 3/11 in vier kolfbeurte teen Pieter Langeveldt Primêr geneem.
Thatim se hande vat vas en die paatljiewagter verduidelik dié posisie is een wat fokus en konsentrasie verg. Wanneer sy nie agter die paaltjies is nie, geniet sy dit om te kolf.
Protea-drome
Die skool se krieketprogram begin op mini-krieketvlak, met die jongste spelers wat in die o.7-span speel en hardebal- krieket wat vanaf o.11 volg. Een van die skool se onlangse hoogtepunte was toe Andringo Frans verlede jaar gekies is om aan ‘n kriekettoer in Dubai deel te neem.
Mary-Jean, Thatium en Shailo sê hul al drie werk om eendag die groen en goud aan te trek en vir die Proteas uit te draf.
“Ek wil my familie, span en skool trots maak met my krieket-prestasies,” sê Thatim. Sy dra haar oorlede oom, Reagan Thys, se woorde saam met haar: “Chase your dreams no matter what . . . your hard work and success can make the world a better place.”
Ondersteun dié toekomstige Proteas se toer deur ‘n donasie by hul BackaBuddy- veldtog, “From Rietenbosch to 2026 Boland T20”, te maak. Dié donasies sal help om hul reiskoste, oefenklinieke, maaltye, toernooigelde en klere vir die toernooi in Augustus te dek.




You must be logged in to post a comment.