Noordkaap Bulletin

KYK | Voormalige vryskut en woordvoerder skuldig aan 4 aanklagte van verkragting

Douglas Mthukwani praat met sy regsverteenwoordiger.
Douglas Mthukwani praat met sy regsverteenwoordiger, adv. Kenneth Kgatwe, nadat hy aan vier aanklagte van verkragting skuldig bevind is. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Douglas Mthukwane (45), voormalige vryskutjoernalis en woordvoerder vir die departement van onderwys, is Vrydag 9 Januarie in ’n verdoemende uitspraak in die hooggeregshof in Kimberley skuldig bevind dat hy drie vroue, onder wie ’n minderjarige, in die tydperk 2016 tot 2019 verkrag het.

Dit is ook openbaar dat hy in 1999 in ‘n poging tot verkragting veroordeel is. Hy is toe ʼn opgeskorte vonnis opgelê waarin hy drie jaar lank gemeenskapdiens moes doen. Ondanks dié misdaadrekord was hy ’n departementele woordvoerder, nasionale woordvoerder van die South African Federation of Trade Unions (Saftu), en ’n vryskutnavorser vir die ANC by die Noord-Kaapse Wetgewer totdat vroulike kollegas hul kommer uitgespreek het.

VIDEO: Charné Kemp

Mthukwane het homself in die verhoor as ʼn struggle aktivis en gewilde studenteleier beskryf. Een van sy slagoffers het hom hieroor gerespekteer, totdat hy haar in 2019 in sy woonstel in Beaconsfield gedreig en verkrag het.

Voorvalle stem merkwaardig ooreen

Hy is aangekla dat hy ’n 14-jarige meisie van Greenpoint wat hy skool toe sou vat, op 30 Mei 2016 eers na sy woonstel in Beaconsfield gebring, gedreig en verkrag het. ln nog ‘n voorval het hy op 20 Augustus 2017 ’n vrou langs die pad in Greenpoint voorgekeer en aanwysings gevra. Sy het ingestem om saam in sy motor te ry. Hy het haar na ’n veld geneem, gedreig en verkrag.

Op 15 Mei 2019 is hy en ʼn vriendin na sy woonstel waar hy haar met getuigskrifte sou help, maar haar gedreig en twee keer verkrag het.

Waarnemende regter Sharon Erasmus het bevind dat sy verweer oor die voorvalle merkwaardig ooreenstem. In al die gevalle het hy die vroue met die besit van ʼn vuurwapen gedreig – een van hulle het dit gesien – en het hy in woedebuie verval as hulle nie doen wat hy sê nie. In sy getuienis is almal as vuil en onhigiënies beskryf. Ná die voorvalle het hy opgetree asof niks verkeerd gebeur het nie.

Toe hy in hegtenis geneem is, het hy ontken dat hy gemeenskap met die drie slagoffers gehad het. Nadat DNS-getuienis die teendeel bewys het, het hy skielik aangevoer die vroue wou met hom seks gehad het.

Getuienis as geloofwaardig beskou

Die regter het die vroue se getuienis as geloofwaardig beskou. Sommiges was selfs jare ná die voorvalle nog emosioneel in die getuiebank. Hulle het die voorvalle dadelik by naasbestaandes en die polisie aangemeld, en beserings het getoon dat seksuele gemeenskap sonder toestemming plaasgevind het. Hul getuienis en beserings is deur ander getuies en ‘n forensiese mediese suster bevestig.

LEES OOK: Vermeende verkragter vir waarneming opgeneem

Die vroue was getraumatiseer deur die gebeure. Dit het een polisielid vier ure geneem om ʼn verklaring van een van die slagoffers af te neem. Dié vrou het Mthukwane as ʼn vriend vertrou en was so geskok dat sy daarna ure lank geworstel het.

Die minderjarige meisie was histeries toe sy die verkragting by haar onderwyser aanmeld. Die polisielid en suster kon sien sy is minderjarig en het nog nie volwassenheid bereik nie. Mthukwane het homself in die getuiebank weerspreek toe hy haar as ʼn “jong meisie” beskryf het, maar wou dit later regstel deur te sê vir hom het sy “volwasse” voorgekom al was sy nog op skool.

Beskuldigde kry woedebuie in hof

In ʼn stadium tydens die uitspraak het Mthukwane hom vererg en verklaar hy gaan nie langer daarna luister nie. Die regter het gedreig dat sy hom kan uitgooi as hy die hofsitting ontwrig.

Mthukwane het ook gedurende die verhoor woedebuie gehad, het die regter gesê. Hy het die aanklaer, polisie, joernaliste en politici beledig en blameer vir die verhoor “wat sy reputasie geruïneer en hom deur hel gesit het”.

Hy het wel sy stelling teruggetrek dat hy in ‘n boendoehof verhoor word.

Douglas Mthukwane is aan vier aanklagte van verkragting skuldig bevind.
Douglas Mthukwane is Vrydag 9 Januarie in die hooggeregshof in Kimberley aan vier aanklagte van verkragting skuldig bevind. FOTO: Charné Kemp

Mthukwane kon ook nie bewyse vir sy aantygings toon nie. Een daarvan was waarom dit “oneties” van die nasionale direkteur van Openbare Vervolging sou wees dat hy in die hooggeregshof en nie die streekhof verhoor word nie.

Onder kruisondervraging het hy vrae ontwyk, in onsinnige vertellings verval oor sy lewensgeskiedenis, en homself telkens weerspreek.

Verweer in voorvalle ‘onwaar’

Sy verweer in al die voorvalle kan nie moontlik redelik waar wees nie, het Erasmus bevind.

As die minderjarige meisie die seksdaad geïnisieer het soos hy aanvoer, hoekom sou sy dit in ‘n histeriese toestand by die onderwyser en polisie as verkragting aanmeld? Indien hy die weldoener van die meisie se sukkelende gesin was soos hy wou voorgee, sal sy hom nie by polisie aangegee het nie.

Dit is onverklaarbaar dat die vrou wat hy vir padaanwysings gevra het, in sy weergawe eintlik geld vir seks wou hê sonder dat ʼn ooreenkoms oor ʼn bedrag bereik is. Sy het die voorval dadelik aangemeld, hoewel sy nie geweet het wie hy was nie. Sy het sy motornommerplaat gememoriseer en dit aan die polisie gegee, hoewel sy van die syfers omgeruil het.

LEES OOK: Kinderverkragter van Velddrif lewenslank gevonnis vir dade

Weke later is sy na die polisiekantoor om te verneem na die vordering van die ondersoek, waar sy toevallig Mthukwane gesien en herken het. Hy is net daar in hegtenis geneem. Volgens hom het sy hom uit weerwraak by die polisie aangegee omdat hy in haar geëjakuleer het; nog ʼn verweer wat die regter verwerp het.

Sy weergawe dat die derde slagoffer en sy gewese vriendin belustig was, is onsinnig want hulle het eers winkel toe gegaan en sy het sy woonstel uitgevee. Daar was geen sprake van voorspel voordat hy haar gedreig en twee keer verkrag het nie. Die regter het sy verweer dat sy haarself met ʼn “ritueel” tussen die twee seksdade beseer het, verwerp. Adv. Adele van Heerden, aanklaer, het haar saak bo alle redelike twyfel bewys.

  • Die voorvonnisverhoor is tot 10 Februarie uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article