DouglasMthukwane
Douglas Mthukwane Maandag 1 Desember in die hooggeregshof. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Die staat het op Maandag 1 Desember in sy slotbetoë in die hooggeregshof in Kimberley aangevoer die hof het dieselfde woedebuie in die hofsaal ondervind waarvan ‘n vermeende verkragter se emosionele slagoffers getuig het.

Douglas Mthukwane (45), wat op sy dag ‘n departementele woordvoerder en joernalis was, ontken skuld op vier aanklagte van verkragting.

Douglas Mthukwane
Douglas Mthukwane vroeër in die hooggeregshof in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

Adv. Adele van Heerden, aanklaer, het in haar slotbetoë aangevoer Mthukwane het “diepgaande grootheidswaan en spoggerigheid” in sy eie hoofgetuienis, kruisondervraging, asook kruisondervraging van getuies getoon.

Mthukwane se weergawe van die voorvalle is redelik moontlik nie waar nie, meen die staat.

As getuie het hy volgens haar vrae ontduik, of in lang onsinnige vertellings verval wat niks met die aanklagte verband hou nie, of onnodige besware geopper. Die hof moes hom verskeie kere maan om vrae te beantwoord.

LEES OOK: Vermeende verkragter vir waarneming opgeneem

Hy word verdink dat hy ‘n 14-jarige meisie van Greenpoint op 30 Mei 2016 in sy woonstel in Beaconsfield, Kimberley, verkrag het.

ln nog ‘n voorval het hy na bewering op 20 Augustus 2017 ‘n vrou langs die pad in Greenpoint voorgekeer en aanwysings gevra. Sy het ingestem om saam in sy motor te ry. Hy het haar na ‘n veld geneem, na bewering gedreig en verkrag.

Op 15 Mei 2019 het hy glo ‘n vriendin wie ‘n tradisionele geneser is, oortuig om saam met hom na sy woonstel te gaan, waar hy haar glo twee keer verkrag het.

Verdagte volg dieselfde patroon

Van Heerden voer aan Mthukwane het dieselfde patroon gevolg deur sy slagoffers te dreig dat hy ‘n vuurwapen het. Een van hulle het die vuurwapen gesien. Mthukwane se beskuldigings dat die slagoffers, verpleërs en dokters, polisie en die vervolgingsgesag teen hom saamsweer om bevordering by die werk te kry, is volgens haar verregaande. Die voorvalle het jare uitmekaar gebeur, is deur verskillende ondersoekbeamptes ondersoek, en die slagoffers ken mekaar nie.

Hy het ‘n neiging getoon om die slagoffers as “vuil en onversorg” te beskryf, maar Van Heerden voer aan hulle was eerlike slagoffers wat geloofwaardig getuig het.

Dis vir Van Heerden veelseggend dat Mthukwane wat in die verhoor aangevoer het die seksdade is met toestemming gepleeg, aanvanklik die dade ontken het. In al die gevalle het hy beweer die vroue het die dade geïnisieer.

Beserings van slagoffers dui op verkragting

Die 14-jarige meisie was volgens mediese en ander getuies duidelik nie tot ‘n volwasse vrou ontwikkel nie. Haar beserings het op verkragting gedui.

Van Heerden voer aan Mthukwane het die meisie met ‘n doel by haar huis gaan oplaai, kastig om haar skool toe te vat. Hy het haar egter eers na sy woonstel gevat en na bewering gedreig en verkrag. Daarna het hy haar skool toe gevat, waar sy die skoolhoof in ‘n histeriese toestand vertel het wat gebeur het. Haar klere was ook geskeur.

Mthukwane se verduideliking dat die meisie die storie uitgedink het omdat sy daardie dag nie eksamen wou skryf nie, is onsinnig. Volgens die staat was hy glad nie so bekend met die meisie se familie soos hy voorgee nie, want hy het hulle net vier dae tevore ontmoet. Die familie het nie geld by hom gebedel nie.

LEES OOK: Vermeende verkragter erken hy ‘hou van vroue’

Die vrou wat hy glo in die veld verkrag het, het nie haar lyf vir geld verkoop soos hy beweer nie. Sy het by haar kêrel gebly wat geldelik vir haar gesorg het. Op die betrokke dag was sy op pad om kookolie te koop toe hy haar vir aanwysings vra. Dit was uit behulpsaamheid dat sy agter in sy kar geklim het om hom te wys waar die straat is waarna hy soek, waarna hy haar na die veld gevat het. Sy het die verkragting dadelik aangemeld en haar beserings het dit bevestig. Ses maande later, toe sy na die polisiekantoor gaan om te verneem hoe die ondersoek vorder, het sy hom toevallig daarbinne gesien waarna hy in hegtenis geneem is. Hy het die verkragting ontken.

Mthukwane het die tradisionele geneser lank geken, en hulle het op Facebook gekommunikeer. Op ‘n dag het sy hom gevra om haar met haar CV te help en kopieë te maak. Hy het ‘n huurmotor bestel en hulle het van haar ouerhuis na sy woonstel gegaan waar hy haar na bewering gedreig en twee keer verkrag het. Mthukwane het daarna ‘n huurmotor bestel om haar huis toe te neem. Daar het sy ‘n vriend vertel, maar was in ongeloof oor wat gebeur het. Sy het haarself bevraagteken, wat volgens Van Heerden tipiese gedrag by verkragtingslagoffers is.

Die voorval is die volgende dag by die polisie aangemeld en mediese getuienis het haar beserings gestaaf.

Soos die ander slagoffers, was sy ook emosioneel in die getuiebank.

In Mthukwane se eie weergawe het hy erken daar is geen kopieë van haar dokumente gemaak nie. Sy verduideliking dat haar klagte spruit oor die verlore R10 000 wat sy sou kry om hom as geneser op te lei, dra nie water nie.

Adv. Kenneth Kgatwe wat vir Mthukwane optree, lewer Dinsdag 2 Desember sy slotbetoë.

Waarnemende regter Sharon Erasmus lei die verhoor.

LEES OOK: Moordenaar-verkragter appelleer teen skuldigbevinding en vonnis

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article