BloemNews Express

Kultuur en stookkuns prut saam op Voortrekkermonument-mampoerfees

Die nasionale mampoerkampioen vir 2026 is Alwyn Swart van Heilbron. Sy seun, Nico, wat saam met sy pa stook, het die toekenning namens hom in ontvangs geneem.
Die nasionale mampoerkampioen vir 2026 is Alwyn Swart van Heilbron. Sy seun, Nico, wat saam met sy pa stook, het die eerbewys namens hom in ontvangs geneem. FOTO: Charlotte Drotsky
BloemNews Express

Kultuur en stookkuns prut saam op Voortrekkermonument-mampoerfees

Die nasionale mampoerkampioen vir 2026 is Alwyn Swart van Heilbron. Sy seun, Nico, wat saam met sy pa stook, het die toekenning namens hom in ontvangs geneem.
Die nasionale mampoerkampioen vir 2026 is Alwyn Swart van Heilbron. Sy seun, Nico, wat saam met sy pa stook, het die eerbewys namens hom in ontvangs geneem. FOTO: Charlotte Drotsky

PRETORIA – Die jaarlikse mampoerfees by die Voortrekkermonument het op Saterdag 6 Junie alle verwagtings oortref toe meer as 2 000 besoekers ‘n dag vol tradisie, musiek, familiepret en die beste tuisgestookte produkte in Suid-Afrika meegemaak het.

Die gees was van vroegoggend af tasbaar, en die vroeë winterkoue het spoedig vir heerlike sonskynweer plek gemaak.

Die geur van tradisionele kos, die klank van boeremusiek en die vrolike gelag van families het die Monument-terrein in ‘n ware viering van Suid-Afrikaanse kultuur en erfenis omskep. Besoekers het van oor die land heen saamgekom om die enigste erkende nasionale mampoerstookkampioenskap in Suid-Afrika te beleef.

Feesgangers het die geleentheid geniet om bekroonde mampoer-, brandewyn- en likeurprodukte te proe.
Feesgangers het die geleentheid geniet om bekroonde mampoer-, brandewyn- en likeurprodukte te proe. FOTO: Charlotte Drotsky

Gehalte vanjaar besonders hoog

Die hoogtepunt van die dag was sonder twyfel die aankondiging van die wenners van die nasionale kampioenskap. Vanjaar se kompetisie het met 262 inskrywings gespog, met stokers wat hul beste produkte in 34 verskillende onderafdelings ingeskryf het. Stokers van so ver suid soos Oudtshoorn en Uitenhage en so ver noord soos Magoebaskloof en Ellisras het hulle ingeskryf.

Buiten tradisionele mampoer en witblits is daar ook meegeding in afdelings vir brandewyn, jenewer, whiskey, rum en verskeie likeure.

Volgens Loftie Ellis, bekende onafhanklike wyn- en spiritusbeoordelaar van Stellenbosch, was die gehalte van die produkte vanjaar besonders hoog.

“Stokers het nie net hul tegniese vaardighede ten toon gestel nie, maar ook merkwaardige kreatiwiteit aan die dag gelê. Besoekers kon unieke produkte proe wat wissel van tradisionele vrugtemampoer tot likeure met geure wat nie sommer elders te vinde is nie.”

LEES OOK: Ketels ‘gorrel en gons’ vir sopies propvol skop by jaarlikse Mampoerfees

Pieter van der Berg, president van die Mampoerstokersgilde, sê hy is baie positief oor die derde jaarlikse Mampoerfees wat by die Voortrekkermonument aangebied is, veral die feit dat soveel gesinne die dag saam by die Monument kom deurbring het.

Die jongspan geniet die koue water in die fontein op die Markplein.
Die jongspan geniet die koue water in die fontein op die Markplein. FOTO: Niël Langner

Die nasionale mampoerkampioen vir 2026 is Alwyn Swart van Heilbron. Hy kon nie die verrigtinge bywoon nie en die eerbewys is deur sy seun, Nico, wat saam met sy pa stook, in ontvangs geneem.

Die witblitskampioene vir 2026 is Coetzee en Lusel Laubscher van Oudtshoorn.

Die gewilde Amahewu-veiling het weer groot belangstelling getrek. Skaars versamelbottels, nisprodukte, die kampioenstokers se wenprodukte en unieke aandenkings is opgeveil. Veral die antieke versamelbottels en verouderde whiskey wat deur gildelede gestook is, het die aandag getrek. Die hoogste bod van die dag is op R16 000 toegeslaan, vir 4 liter whiskey in ‘n antieke bottel.

Samesyn en vermaak stook feesgees

Die fees het egter oor veel meer as net mampoer gegaan. Meer as 150 stalletjies het ‘n verskeidenheid produkte aangebied, van kunsvlyt en plaasprodukte tot eetgoed. Gesinne kon rustig tussen die stalletjies wandel, terwyl kinders hulself geniet het met verskeie vermaakaktiwiteite.

Op die verhoog het kunstenaars en musikante die feesgangers deurentyd vermaak. Die gewilde groep Beeskraal, die veelsydige Kosie Beukes, die ontluikende kunstenaar Zana Sonnekus en die akteur en sanger Altus Theart het ‘n feestelike atmosfeer verseker. Tradisionele boeredanse en volkspele het verder bygedra tot die karakter waarvoor die mampoerfees bekend geword het.

Die Wapadrand Boeredansgroep het die skare met hul kleurvolle optrede vermaak.
Die Wapadrand Boeredansgroep het die skare met hul kleurvolle optrede vermaak. FOTO: Charlotte Drotsky

Dawid Brand, bedryfshoof vir bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste, sê die fees bewys opnuut dat ons kulinêre en kultuurerfenis die vermoë het om gemeenskappe van oraloor bymekaar te bring.

“Die Mampoerfees gaan oor die stories van families, die kennis wat van geslag tot geslag oorgedra word, en die trots waarmee gewone mense ’n unieke deel van ons kultuurerfenis lewend hou. Dit is presies waarom hierdie fees jaar ná jaar groei.

“Wanneer duisende mense saam lag, dans, kuier en leer, sien ons hoe erfenis lewend bly. Die mampoerfees bewys dat kultuur en tradisie leef in die hart van mense en gemeenskappe, en die besonderse herinneringe wat by hierdie wêreldbekende erfenisbaken geskep word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article