Vroëer vanjaar het sy die krieketwêreld behoorlik laat regop sit met haar skouspelagtige toetrede tot senior internasionale vrouekrieket vir die Proteas, in beide T20- en eendagkrieket.
Dit was dus geen groot verrassing nie dat Kayla Reyneke (20) van Kuilsrivier gisteraand (16 Julie) by Krieket Suid-Afrika (KSA) se jaarlikse toekennings as Internasionale Vroue-nuweling van die Jaar aangewys is.
Die veelsydige jong speler wat selfvertroue en kalmte op die veld uitstraal, is ook benoem vir die Vroue T20 Internasionale Speler van die Jaar (toegeken aan Laura Wolvaardt) en as die toeskouers se gunstelingspeler (toegeken aan Lungi Ngidi).
Protea-kaptein Wolvaardt het ook weggestap met die toekennings vir SA Vrouekrieketspeler van die Jaar, Vroue Eendagspeler van die Jaar, en as die Vrouespelers se Speler van Jaar.
Dit was Reyneke se tweede keer by KSA se jaarlikse gala-aand in Johannesburg, nadat sy verlede jaar in die provinsiale liga as Hollywoodbets se T20 Speler van die Seisoen aangewys is.
LEES OOK: Krieket Suid-Afrika toekennings: Kuilsrivier se Kayla Reyneke Pro20-Speler van die Seisoen
Maak geskiedenis
In Februarie het Reyneke in haar heel eerste internasionale T20-wedstryd vir die senior Protea-vrouekrieketspan teen Pakistan senuwees van staal ten toon gestel toe sy, met nog twee lopies kort, die laaste bal vir ‘n ses gemoker het om die wedstryd vir Suid-Afrika te wen.
In Maart, met haar Protea-debuut in eendagkrieket oor 50 boulbeurte op toer teen Nieu-Seeland, kort daar nog ses lopies van die laaste bal. Reyneke kom weer tot die span se redding met ‘n ses en word so die eerste krieketspeler wat die wenlopies van die laaste bal kon aanteken op debuut in beide T20 en eendagkriekettoetse. Sy word weer as Speler van die Wedstryd aangewys en word sodoende die eerste (en tans enigste) vrouespeler om die eerbewys op debuut in twee verskillende formate te kon behaal.

Nog ‘n hoogtepunt van haar debuutseisoen was haar insluiting by die groep vir die Vroue T20-Wêreldbekertoernooi wat in Junie in Engeland gehou is.
Engeland
Die krieketklub Birmingam Phoenix, wat in die Verenigde Koningkryk se “The Hundred” proffesionele liga (100-bal-krieket) speel, het Woensdag (15 Julie) aangekondig dat Reyneke geteken het om tydelik by die span aan te sluit. Sy sal diens doen as ‘n plaasvervanger in twee wedstryde vir Fatima Sana wat as kaptein vir Pakistan in ‘n toets sal speel.
Die klub spog dat Reyneke tans ‘n treftempo (“strike rate“) van meer as 150 het, van die hoogste in vrouekrieket. Ali Maiden, vroueafrigter by Birmingham Phoenix, het dit as ‘n bonus beskryf om ‘n speler van Reyneke se kaliber te kan inbring om die span deur hul twee openingswedstryde van die liga (wat in Julie en Augustus gespeel word) te kry.
“Sy het ‘n groot impak vir Suid-Afrika met beide kolf en bal gemaak sedert haar debuut in 20- en 50-boulbeurtkrieket vroëer vanjaar. Ek is opgewonde om te sien hoe sy daardie wen-eienskappe na ons span kan bring.”
Reyneke sal beskikbaar wees vir die klub se wedstryd teen die Trent Rockets op Vrydag 24 Julie in die Edgbaston-stadion in Birmingham.
LEES OOK: Kayla doen dit weer met ‘n ses vir Proteas en behaal boonop unieke prestasie






You must be logged in to post a comment.