Oudergewoonte is daar groot ongelukkigheid oor die regering se jaarlikse aankondiging van die Weskus-kreefkwotas, met baie kleinskaalse vissers wat meen hulle word weereens agtergelaat.
Die nuwe totale toelaatbare vangs het van 505 ton tot 800 ton gestyg. Die kommersiële sektor kry egter die grootste hap hiervan, naamlik 400 ton (50%) vir kommersiële vangste ter see (offshore) en 136 ton (17%) vir kommersiële vangste langs die kus (nearshore).
Danie Hefers berig dr. Dion George, die minister van visserye, het in sy jongste kwotatoekennings egter slegs 240 ton (30%) aan kleinskaalse vissers toegeken. Dit is 136 ton vir bestaanvissers wat naby die kus vang en 104 ton ter see.
“Die toename van 58,4% weerspieël ons verbintenis tot beide ekologiese herstel en ekonomiese geleenthede. Deur ons besluite op die beste beskikbare wetenskap te baseer, kan ons verseker dat hierdie ikoniese vissery vir geslagte wat kom, sal floreer,” het die Minister verlede week gesê.
Baie bestaansvissers meen egter dit bly net maatskappye wat baat vind. “Ons suig aan die agterste speen,” is die algemene gevoel.
Uit kommentaar op Weslander se Facebook-blad oor die kreefkwota-aankondiging is dit duidelik kleinskaalvissers voel in die steek gelaat.
Loretta Pheiffer meen dit is waarom mense so kreef steel en Kobie Nieuwenhuis vra waarom “ryk mense” tonne kan vang en die arm mense moet daarsonder suffer?
Nadison Lazarus meen die onregverdige kwotas noop sommige vissermanne om hulleself sommer regdeur die jaar te help aan kreef, kwota al dan nie. “Dit is nie lewensvatbaar om ‘n hele gesin dwarsdeur die jaar te voed nie.”
Volgens dr. George toon die kreefbron tekens van herstel, maar sekere maatreëls is steeds nodig om die bron te beskerm. “Die verhoogde kwotas toon die departement se toewyding aan beide ekologiese herstel én ekonomiese geleenthede.”
Ontspanningsvissers kry wéér slegs 12 dae tydens die ‘n vangseisoen van slegs vier maande, van 15 November 2025 tot 15 Maart 2026, om húlle toegelate 24 ton te vang. Dit is 3% meer as die vorige seisoen en volg volgens die regering se eie nuuswebwerf op “die jongste wetenskaplike assessering, wat tekens van herstel in die hulpbron toon”.
Hoewel die regering met die limiet probeer verhoed dat Weskus-kreef geoes word gedurende sensitiewe biologiese periodes en help om stropery te bekamp, meen ontspanningsvissers egter dat die vastel van die spesifieke dae vir kreefduik sonder insae gekies word, want as die weer of die laagwatertye nie saamspeel nie, gaan die een na die ander dag vir kreefduik verlore.
Pikkie Groenewald meen hulle kan sportduikers ‘n bietjie genadiger wees. “Soveel dae speel die kondisies net nie saam nie.” Op sulke dae kan geen kreef gevang word nie, want baie keer val laagwater ook vóór of ná die toegelate daaglikse vangtyd.
Die departement het belanghebbenes 30 dae gegee om appél aan te teken en kommentaar op die jongste kwotatoekennings te lewer.
Skryf aan MLRAAppeals@dffe.gov.za, met ‘n afskrif aan CSCapplications@dffe.gov.za.





