BLOEMFONTEIN – Meer as 3 891 mense in Suid-Afrika is vanjaar al gediagnoseer met masels, wat beteken dat daar heelwat meer gevalle van dié siekte is.
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes is daar sedert 29 Desember tot 16 Augustus 3 891 laboratorium-bevestigde gevalle van die siekte aangeteken. Dit is 144 nuwe gevalle in een week. Die meeste van hierdie gevalle het voorgekom in die Wes-Kaap (38) met 30 in Limpopo, 20 in die Noord-Kaap, 16 in Gauteng, 14 in die Vrystaat, 12 in Mpumalanga, 7 in Noord-Wes, 5 in KwaZulu-Natal en 2 in die Oos-Kaap.
Dr. Cloete van Vuuren, hoof van interne geneeskunde by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein, sê die toename in gevalle is omdat daar kinders en volwassenes is wat nie teen hierdie of ander kindersiektes ingeënt is nie. “In sekere Vrystaatse streke is tot 57% van kinders nie ingeënt nie. Om bestand te wees teen ‘n siekte soos masels, moet 90% van die bevolking ingeënt wees.”
Cloete sê kinders wat hul twee dosisse immunisering gehad het, is immuun teen die siekte. “Die entstof het geen nadelige gevolge nie,” verseker hy.
Wat kommerwekkend is van die 676 positiewe getalle van die siekte wat tot dusver in die Vrystaat aangeteken is, is dat vir elke een pasiënt wat aangemeld is, daar maklik 10 of 20 is wat nie by ‘n dokter uitkom of getoets word.
Cloete sê net verlede week is daar ses pasiënte met masels in hospitale in Bloemfontein opgeneem en masels het al by talle skole in die stad voorgekom. Die groot probleem met mense wat masels onder lede het, is dat hulle twee dae voordat hulle simptome wys, aansteeklik is. Hulle is ook nog vier dae vandat die uitslag verskyn het, aansteeklik.
“Mense wat in kontak kom met iemand wat masels het, kan gaan vir die masels-inenting en sal beskerm word. Dit kan geen skade doen as iemand die twee basis-dosisse as kind gehad het, en nou weer voorkomend ‘n inenting kry nie, ” sê hy. Kinders kry hul eerste basis-inenting op ses maande en die tweede op 12 maande. Sowat 7% van mense wat ingeënt is, kan wel nog die siekte opdoen.
Cloete sê dit is moontlik dat mense nie meer hul kinders ineënt omdat kindersieketes nie meer so algemeen voorkom nie. Die probleem is dat as mense die siekte kry, daar langtermyngevolge kan wees met komplikasies jare nadat hulle dit gehad het.
Die instituut moedig mense wat vermoed dat hulle masels het aan om ‘n dokter of kliniek te besoek en bloedtoetse te laat doen om die siekte te bevestig.




