PAARL – Die nuus dat dit twee maande sal neem voordat sy pa, wat op 9 Augustus oorlede is, veras sal kan word, het vir Wynand van Zyl heeltemal onkant gevang.
Van Zyl sê dat sy familie begrafnisreëlings vir sy pa, Klaas, wat op Malmesbury gewoon het, getref het. Die begrafnisondernemer het hulle laat weet dat daar ‘n agterstand by krematoriums in die Wes-Kaap is en dat die verassing eers oor twee maande gedoen sal kan word. Die alternatief was om sy liggaam na die Despatch-krematorium in die Oos-Kaap te stuur, wat dit binne vyf na sewe dae kan doen.
Beperkte krematorium fasiliteite in provinsie
In die Wes-Kaap is daar krematoriums in Maitland en Durbanville in die Kaapse metropool, Worcester, Paarl en in George. Dié in Maitland, Durbanville en Worcester word deur Independent Cremations South Africa (ICSA) bestuur. Hulle bestuur elf krematoriums oor die land heen.
Ingeligtes in die bedryf het gesê dat daar nie sulke groot agterstande is nie, of dat wanneer daar wel is, dit nie lank duur nie. Hulle wou egter nie op rekord kommentaar lewer nie.
By navraag het die Stad Kaapstad verwys na ‘n persverklaring wat aandui dat die Maitland-krematorium in 2024 opgegradeer is teen ‘n koste van R18 miljoen. Dit het twee bykomende oonde en ‘n uitbreiding van die koelkamers ingesluit. Dié krematorium bedien gemeenskappe so ver as Springbok en die Weskusstreek en is baie besig.
Drakenstein-probleme verhoog druk
Die Drakenstein-krematorium was in die verlede in die spervuur omdat hulle tydelik moes sluit nadat hulle nie aan hul lugbesoedeling-vereistes vir hul lisensie voldoen het nie. Bewerings van ander ongerymdhede is ook geopper. Dit is na aanleiding daarvan dat van die begrafnisondernemers nie meer van hulle gebruik maak nie, het ‘n ingeligte gesê.
Dit verhoog die druk op die ander krematoriums in die provinsie.
Die vraag na verassing het die afgelope jare toegeneem vanweë onveilige en onversorgde begraafplase, asook die laer koste.
Families dra swaar finansiële las
Wanneer ‘n geliefde se liggaam moet wag voor verassing, is daar bykomende kostes vir verkoeling en vir vervoer indien dit na ‘n krematorium wat verder geleë is gestuur moet word.
Volgens Van Zyl het die kostes vir sy pa se verassing met sowat R9 000 gestyg na R38 000 omdat daar van die Despatch-krematorium gebruik gemaak moes word.
NovaNews het uitgereik na die begrafnisondernemer wat sy pa se verassing hanteer het, maar het nie teen spertyd terugvoer kry nie.
ICSA wou ook nie kommentaar lewer op vrae oor agterstande nie.
Johan Rousseau van die Funeral Industry Reformed Association (Fira) het ook sy kommer gelug oor agterstande by krematoriums in die Wes-Kaap.
“Die vertragings bring aansienlike kostes mee vir families, wat moet betaal vir verkoeling asook vervoerkoste na krematoriums wat verder geleë is soos Despatch. Daar moet indringend na die kwessie gekyk word om die tydsverloop vanaf wanneer die persoon oorlede is tot hy of sy veras word te verkort.”
LEES OOK: Drakenstein-krematorium vra vir nuwe AEL-lisensie
Oproep vir hersiening van regulasies
Die vereniging het ‘n pleidooi aan die regering gerig om die regulasies wat die ontwikkeling van krematoriums beheer te hersien om beleggings in die bedryf aan te moedig sodat die kapasiteit uitgebrei kan word. Hulle het die redes vir agterstande toegeskryf aan die sluiting van sekere fasiliteite, onderhoudsagterstande en streng omgewingsbeperkings.
In ‘n Facebook-plasing het Fira ook hul kommer uitgespreek oor die lang wagtydperke wat ondernemers noop om liggame oor lang afstande te vervoer. Hulle het gesê dat hulle die belangrikheid van gepaste regulasies om die omgewing te beskerm erken, maar glo dat die bestaande regulasies ontwikkeling van meer krematorius onnodig kompleks en duur maak.
Krematoriums word deur streng regulasies beheer. Volgens Jo-Anne Otto van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) word die krematoriums privaat besit. KWDM is slegs verantwoordelik daarvoor om te verseker dat krematoriums voldoen aan die vereistes van toegelate uitlaatgasse vir lugkwaliteit-lisensies.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het ook in hul terugvoer aangedui dat krematoriums nie binne hul operasionele mandaat van die departement val nie, maar óf munisipaal óf privaat bedryf word.






