Kol. Johan Barkhuizen: Nou is dit ‘tyd vir myself en familie’

Polisielede het erewag gestaan en ‘n laaste keer vir kol. Johan Barkhuizen gesalueer terwyl hy by die polisiekantoor uitgestap het.

Die Wellington-polisie het Dinsdag (31 Maart) van ‘n geliefde kollega en leier afskeid geneem nadat kol. Johan Barkhuizen afgetree het.

Barkhuizen was 39 jaar in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, waarvan hy 17 jaar as stasiebevelvoerder in Wellington gewerk het. Dit is maar net ‘n paar dae nadat hy afgetree het en Barkhuizen sê die werklikheid het nog nie ingeskop nie.

“Ek voel ek het deur my loopbaan my beste gegee om te beskerm en om te dien en dit is nou tyd om aandag aan my familie te gee.”

Volgens Barkhuizen het hy talle hoogtepunte in sy loopbaan oor byna vier dekades as polisiebeampte gehad – nie net een spesifieke herinnering nie.

“Die lekkerste gedeelte om ‘n polisieman te wees, is om die gemeenskap te help. Dit is baie lekker. Van my hoogtepunte is die baie plekke wat ek met die geleenthede wat die polisie gebied het, gesien het, en natuurlik ook die mense met wie ek werk. Elke oomblik is maar ‘n hoogtepunt vir my.”

Hy sê wat hy die meeste gaan mis, is die mense saam met wie hy elke dag nou gewerk het. “Dit maak nie saak waar in die kantore, by die speurders, by vispol – ek gaan al my kollegas mis. Dan ook natuurlik die samewerking van die gemeenskap wat gehelp het, soos die vennootskappe wat gebou is.”

Barkhuizen bedank ook alle rolspelers, die gemeenskap, buurtwagte en private veiligheidsmaatskappye en -beamptes wat hom in sy taak ondersteun het.

“Ek kan nie anders as om net vir almal dankie te sê nie. Die gemeenskap se ondersteuning, hul gebede, al die mense wat ‘n rol gespeel het, die lede en die offisiere se ondersteuning. Dit is en was fantasties.”

Met sy jarelange ondervinding deel hy ook graag raad met polisiebeamptes wat onlangs in diens getree het

“Moet nooit die doel vergeet hoekom jy in die polisie is nie. Dit is om te beskerm en te dien,” beklemtoon Barkhuizen.

“Jy moet die gemeenskap ondersteun en help. Daar is nie ‘n ander manier nie. Ook, ondersteun jou kollegas. Julle moet as ‘n span werk. So, as jy aansluit by die polisie moet jy ‘n doel hê om te dien, want daar is nie geld nie. Maak die polisie se naam trots.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article