Dr. Tjaart Johannes van der Walt, ’n pionier van digitale bankwese in Afrika, het verlede Donderdag (26 Maart) ’n eredoktorsgraad van sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch (US), by die instelling se Maart-gradeplegtigheid ontvang.
Die graad Doktor in Ingenieurswese (DEng), honoris causa, is by ’n seremonie vir die ingenieurswese fakulteit aan hom toegeken. Van der Walt is vereer vir sy baanbrekersbydrae tot ingenieurswese, digitale tegnologie en datawetenskap; sy rol in die ontwikkeling van wêreldwye relevante en sosiaal responsiewe finansiële innovasies; en sy volgehoue toewyding aan die mentorskap van toekomstige geslagte innoveerders. Hy was in 2012 ’n medestigter van die TymeGroup.
Hy het die verkoop daarvan aan die Commonwealth Bank of Australia in 2015 saam met sy medestigter gelei en later ook die terugkeer na Suid-Afrika in 2018 saam met African Rainbow Capital. Suid-Afrika se heel eerste ten volle digitale handelsbank, TymeBank, is in 2019 onder sy medeleierskap met behulp van ’n innoverende verspreidingsmodel bekendgestel. Dit het bankdienste aan miljoene Suid-Afrikaners gebring wat voorheen nie bankdienste gebruik het nie.
Van der Walt het in sy aanvaardingstoespraak sy diepe dankbaarheid teenoor die US en die Fakulteit Ingenieurswese vir die toekenning van die eredoktorsgraad uitgespreek. “Dankie uit die diepte van my hart. Ek was gelukkig om toekennings te ontvang, altyd as ʼn resultaat van die moed, toewyding en innovasie van soveel mense rondom my. Ek aanvaar hierdie toekenning, die grootste eer wat ek kon ontvang, namens hulle almal, en ook die miljoene mense wat ons bevoorreg was en is om te dien. Om hierdie eer van my alma mater as een van die topuniversiteite wêreldwyd te ontvang, maak dit so spesiaal,” het Van der Walt gesê.
Van der Walt het in 1992 ’n doktorsgraad in chemiese ingenieurswese aan die US ontvang. Hy was onder meer voorsitter van die Studenteraad in 1990 en het in 1992 die Kanseliersmedalje ontvang.
Hy het die belangrikheid van leierskap, tegnologie en gelykheid in verhoudings beklemtoon. Van der Walt het ook drie eienskappe van effektiewe leiers uitgelig: suiwere voorneme, onbetwisbare uitvoeringsvermoë en opregte besorgdheid vir groei. Van der Walt het die graduandi aangemoedig om diepliggende tegniese vaardighede te ontwikkel en langtermynverhoudings te bou. Hy het voorspel dat jong ingenieurs en datawetenskaplikes ‘n deurslaggewende rol in die tegnologiese rewolusie sal speel.
Van der Walt het ook die gehalte van hul grade onderstreep.
“Om ‘n graduand van die US te wees, is jou paspoort om met die bestes in die wêreld te werk. Dit is ook jou paspoort om teen die bestes in die wêreld mee te ding. Moet dit nooit vergeet nie. Die wêreld wag, en dit het jou meer nodig as wat dit besef.” Hy het Roger Federer aangehaal en die belangrikheid beklemtoon om elke punt te behandel asof dit saak maak en met volle toewyding vorentoe te beweeg. “Julle het hierdie wedstryd gewen. Julle het ʼn waardevolle graad verwerf en vandag vier ons dit. Kom ons druk nou die terugstelknoppie vir môre en beweeg vorentoe na die volgende wedstryd. Speel vry en leef ‘n betekenisvolle lewe met vreugde.”
Dit was ‘n onvergeetlike dag vir die Van der Walt-gesin toe Tjaart se niggie, Rita van der Walt, haar PhD in elektriese ingenieurswese by dieselfde seremonie ontvang het. Rita het gesê: “Dit is ʼn voorreg om saam met my oom Tjarrie graad te vang. Om te sien hoe my navorsing en sy lewenswerk albei bydra tot ‘n meer toeganklike Suid-Afrika – in ons skole en in bankwese – is spesiaal en beslis ‘n trotse oomblik vir die hele familie.”





