ambulans illustrasiefoto
‘n Ma moes hulpeloos toekyk toe haar kind wat saam met haar in ‘n ry by Sassa gestaan het, ernstig siek word en kort ná aankoms by ‘n kliniek oorlede is. Foto ter illustrasie

KAAPSTAD – ‘n Jong kind is vroeër vandag (17 Februarie) dood kort ná aankoms by ‘n kliniek in Reedsstraat, Bellville. Dít nadat die kind glo ernstig siek geword het terwyl die kind se ma in ‘n ry by ‘n plaaslike Sassa-kantoor gestaan het vir maatskaplike toelaedienste.

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) het dié nuus laat Dinsdagaand in ‘n persverklaring bevestig. Die kind se geslag en ouderdom is nie bekend gemaak nie.

Luidens die verklaring wat deur Sassa Wes-Kaap uitgereik is, het die ma en kind in ‘n ry by Sassa se Bellville-kantoor gestaan toe sy beamptes om hulp nader nadat die kind ernstig siek geword het.

Personeel het onmiddellik nood- mediesehulp ontbied, maar toe dit lyk asof ambulansdienste te lank gaan neem om by die toneel te kom, het personeel die ma gehelp om die kind by die naaste kliniek, in Reedsstraat, sowat 500m vanaf die Sassa-kantore, te kry.

Met hul aankoms by die kliniek is die kind in die noodkamer opgeneem, maar het tragies kort daarna afgesterf.

Die omstandighede rondom die dood is nog onbekend.

Sassa het hul medelye met die kind se familie uitgespreek en hul personeel geprys vir hul vinnige optrede en die deernis waarmee hulle die situasie hanteer het. Die agentskap het aangedui dat hy sy volle samewerking met die nodige prosesse sal gee, en daartoe verbind bly om die veiligheid en waardigheid van alle begunstigdes wat toegang tot sy kantore verkry, te verseker.

‘n Navraag oor die voorval is ook aan die Wes-Kaapse polisie gestuur. Hulle kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

  • Laas week is ‘n 52-jarige man, wat intussen as Gerhard Williams geïdentifiseer is, buite die Sassa-kantoor in Paarl-Oos dood, kort nadat hy hiér vir dienste aangeklop het. Daar is later berig dat die man vir lank met sy gesondheid gesukkel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article