Kidja-diamantbedrogsaak: Meer as vyf getuies die afgelope dekade dood

hofsake paarl
Die hofsaak oor diamantbedrog in Kimberley duur voort.

Kidja-diamantbedrogsaak: Meer as vyf getuies die afgelope dekade dood


KIMBERLEY – In die 15 jaar sedert die beweerde sameswering van verskeie Noord-Kaapse staatsamptenare om die departement van ekonomiese ontwikkeling, finansies en toerisme met wanvoorstellings te bedrieg oor ‘n dringende behoefte aan ongeslypte diamante om studente by die Kimberley International Diamond and Jewellery Academy (Kidja) op te lei, is meer as vyf getuies en een beskuldigde reeds dood.

Die sterftes bemoeilik die verhoor van die oorblywende aangeklaagdes – Tebogo Basil Gaborone (46), gewese seniorbestuurder van projekte; Susan Lizette Wyngaard (56), voormalige hoofdirekteur van handels- en sektorontwikkeling; en Kuberin Packirisamy (60), gewese finansiële hoof.

Patrick Seboko (66), die eerste beskuldigde en voormalige departementshoof, is intussen oorlede.

Almal was hooggeplaaste amptenare van die betrokke Noord-Kaapse departement.

Die aangeklaagdes is van links Tebogo Basil Gaborone (46), gewese seniorbestuurder van projekte; Susan Lizette Wyngaard (56), voormalige hoofdirekteur van handels- en sektorontwikkeling; en Kuberin Packirisamy (60) gewese finansiële hoof. FOTO: Charné Kemp

In die saak wat bedrog van meer as R6,7 miljoen behels, word hulle daarvan verdink dat hulle in Maart en April 2011 saamgesweer het om die departement met wanvoorstellings te bedrieg oor ’n dringende behoefte aan ongeslypte diamante om studente by Kidja op te lei in diamantslyp en -poleer.

LEES MEER: Vier Noord-Kaapse hooggeplaastes ontken skuld met diamante

Transaksie sonder vereiste tenderprosesse deurgevoer

Volgens die staat had nóg die amptenare nóg Kidja op die betrokke tydstip ’n lisensie of permit om in diamante te handel. Kidja is in 2008 deur die departement en De Beers gestig as deel van die “Diamantstrategie” om beleggers te lok deur diamante te veredel en studente te bekwaam.

Die diamante van 1 429 karaat is na bewering teen R6,7 miljoen van wyle Dean Snyders se Uniteam Investments-besigheid aangeskaf sonder dat die vereiste tenderprosesse gevolg of die diamante vooraf geëvalueer is.

Ander waardeerders het later die waarde minder geskat as wat betaal is. Die diamante is in Uniteam se kluis geberg, waarvoor die departement verantwoordelik­heid sou neem as dit verdwyn. Toe die ouditeur-generaal (OG) dit meer as ’n jaar later tydens ’n oudit wou inspekteer, het dit verdwyn.

Benewens bedrog word hulle ook afsonderlik of gesamentlik van oortredings van die Wet op Diamante en die Wet op Open­bare Finansiële Bestuur aangekla.

Getuies dun uit

Luitenant-kolonel Ralda Breedt, een van die ondersoekbeamptes, het Maandag 29 Junie in die Spesiale Handelshof in Kimberley getuig dat minstens twee getuies onlangs oorlede is, en nog ʼn bedlêende getuie ly aan fase 4-kanker. Een van die getuies het intussen emigreer en sal nie na Suid-Afrika terugkeer nie. ‘n Ander getuie se huis is verkoop en sy kon nie sy nuwe adres kry en hom opspoor nie. Een van die getuies wat Maandag sou getuig, se voertuig het op pad na Kimberley onklaar geraak.

Vroeër die oggend het Bryan Zurel, mededirekteur van Zurel Brothers, wat Kidja se opleidings­diamante en opleiding verskaf het, in sy getuienis daarop aangedring dat hy en sy span net opleiding in die slyp van diamante aan studente gegee het, en nie opleiding in diamantwaardasie nie.

Zurel Brothers was die enigste party wat ‘n geldige lisensie gehad het om diamante aan te koop, en Kidja was onder hul lisensie in bedryf. Kidja en die departement had nooit ‘n lisensie en mag daarom nooit diamante aankoop nie. Die lisensie is nooit na Kidja uitgebrei nie, het hy aangedring.

Onder kruisondervraging het hy die bestaan van ander diensooreenkomste verwerp, en gesê hulle was net gekontrakteer om slyp-opleiding te verskaf, of anders is hy onbewus daarvan.

Hy het ook die stelling verwerp dat buitelande diamante ook aangekoop is om die “versameling diamante te verryk”.

“Suid-Afrika het genoeg uitstekende diamante, daar is geen sin om ander in te voer om waarde by te voeg nie. Al wat ons gedoen het, was om mense op te lei en vaardighede oor te dra sodat hulle eendag werk kan kry.”

Volgens Zurel het hulle nooit juweel-gehalte diamante in opleiding gebruik nie, net diamante van laer waarde.

“Sodra ʼn diamant in opleiding geslyp  is, was dit waardeloos, veral nou dat die natuurlike diamantpryse so laag is. Die opleidingsdiamante is in die agterkant van die kluis weggesit.”

Staatsbates nie beveilig

Een van sy voormalige werknemers, Paresh Vaghasia wat opleiding in Kimberley gedoen het, het onder meer getuig dat hy eendag gesien het een van die opleiers is besig om ‘n diamant met hoë gehalte te slyp, wat hy dadelik by sy bestuurder aangemeld het omdat dit so buitengewoon was.

In die akte van beskuldiging is Seboko as rekenpligtige beampte verdink dat hy vrugtelose, vermorste en ongemagtige uitgawes aangegaan het deur nie tenderprosesse te volg wat regverdig, deursigtig, koste-effektief en kompeterend is nie.

Gaborone het glo ’n memorandum opgestel waarin toestemming gevra word om van die verkrygingsprosedures af te wyk, terwyl Wyngaard die aankope namens Kidja aanbeveel het.

Packirisamy het glo uiters nalatig opgetree deur ’n dokument te teken waarin Snyders geen verantwoordelikheid vir die diamante in sy kluis neem nie.

Die staatsbates is nie beveilig en geen versekering is op die diamante uitgeneem nie.

Riaan Bode tree namens Wyngaard, adv. Laurance Hodes SC namens Packirisamy, en Chwaro Kgotlagomang namens Gaberone op.

Adv. Willie Els kla aan. Die saak voor streeklanddros Vernon Smith duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article