JEFFREYSBAAI – ’n Nuwe Afrikaanse leefstylgeselsprogram met ’n sterk Oos-Kaapse hart het Dinsdagaand om 19:00 op VIA, DStv-kanaal 147, begin.
Keyter vir Almal word ook elke Vrydagaand om 22:00 op VIA heruitgesaai.
Die program, aangebied deur JP Keyter, staan in diens van Afrikaans en fokus op mense wat op een of ander manier ‘n verhouding met die Oos-Kaap het. Sommige gaste is bekende name. Ander is gewone mense wie se lewensverhale net so betekenisvol is.
Keyter vir Almal word vervaardig deur die ervare TV-aanbieder en media-entrepreneur JP Keyter en sy vrou, Anzél Keyter, deur hul produksiemaatskappy Keyter Media, wat voorheen as BlueAvo Media bekendgestaan het.
“Toe ek en my vrou, Anzél, met die konsep vorendag gekom het, het ons van die begin af besluit dat ons die reeks in die natuur wil verfilm,” sê Keyter. “Ons wou die natuurskoon en natuurlike landskap van die Oos-Kaap en ons mooi land as ons ateljee gebruik.”
Die reeks word by Lombardini, in die hartjie van Jeffreysbaai, verfilm. Die wildsplaas en renostertoevlugsoord bied ‘n besonderse natuurlike agtergrond, met die see naby en die kenmerkende Afrika-sonsondergange.
Volgens Keyter is die omgewing ook deel van die program se storievertelling. “Wanneer jy buite in ‘n rustige omgewing sit en met iemand gesels, voel dit minder soos ‘n formele onderhoud en meer soos twee mense wat saam kuier en ‘n gesprek voer.”
Die eerste gas was die voormalige Springbokafrigter Peter de Villiers. Sy sterk verbintenis met die Oos-Kaap, tesame met sy persoonlike lewensverhaal, illustreer presies waarna Keyter vir Almal streef: om die mens agter die bekende naam te leer ken.

Die reeks bevat ook gesprekke met onder andere dr. Yolanda van der Merwe, Sammy Jantjies en Rachel John.
“Jy hoef nie ‘n bekende persoon te wees om ‘n verhaal te hê wat iemand anders se lewe raak nie,” sê Anzél Keyter.
Keyter vir Almal het Dinsdag 22 September begin op VIA, DStv-kanaal 147, met ‘n heruitsending elke Vrydagaand om 22:00.
Die program word met trots geborg deur nog ‘n Oos-Kaapse onderneming, naamlik Value Added Life.
LEES OOK: Biltong-vervaardiger wil ProNutro red ná besluit om dit van rakke te haal






You must be logged in to post a comment.