ProNutro was vir meer as ses dekades 'n gunsteling ontbyt in Suid-Afrikaanse huise.
ProNutro was vir meer as ses dekades ‘n gunsteling ontbyt in Suid-Afrikaanse huise.

Biltong-vervaardiger wil ProNutro red ná besluit om dit van rakke te haal


KAAPSTAD — ‘n Trots Suid-Afrikaanse biltong- en boereworsvervaardiger het op Erfenisdag amptelik aangebied om die ProNutro-handelsmerk van PepsiCo te koop nadat die multinasionale maatskappy aangekondig het hulle gaan die ikoniese ontbytproduk ná meer as ses dekades staak.

Biltong & Bangers, wat Suid-Afrikaanse produkte in die Verenigde Koninkryk verkoop, het hul belangstelling amptelik in ‘n inskrywing op hul Facebook-blad aangedui.

Die besluit om ProNutro, ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika, van winkelrakke te verwyder, is vroeër hierdie week aangekondig. Dit kom slegs vyf maande ná hewige kritiek oor ‘n mislukte poging om die produk met ‘n nuwe resep te hernu.

Die maatskappy het sedert April kritiek ontvang oor sy “nuwe generasie” ProNutro wat deur verbruikers verwerp is weens smaak-, tekstuur- en mengbaarheidsprobleme.

Kon oorspronklike resep nie herskep nie

“Vir geslagte was ProNutro deel van Suid-Afrikaanse huise, gesinsroetines en herinneringe. Vroeër vanjaar het ons Nuwe Generasie ProNutro bekendgestel om die handelsmerk beskikbaar te hou vir verbruikers, terwyl ons die voedingsvoordele behou en dit op ‘n meer omgewingsvolhoubare manier vervaardig,” skryf die maatskappy in ‘n inskrywing op die ProNutro Facebook-blad.

Ná die bekendstelling het verbruikers die maatskappy laat weet dat die nuwe produk nie aan hul verwagtinge voldoen het nie, veral wat betref smaak, tekstuur en mengbaarheid.

“Ons het geluister en opsies ondersoek om die oorspronklike produk terug te bring, maar ons kon nie die smaak en tekstuur wat verbruikers met die oorspronklike ProNutro geassosieer het, herskep nie,” lui die inskrywing.

Ná ‘n “lang en deeglike hersiening” het die maatskappy die moeilike besluit geneem om ProNutro in Suid-Afrika te staak.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning wat verbruikers oor baie jare aan die handelsmerk gegee het,” het PepsiCo gesê.

Hewige reaksie van verbruikers

Die aankondiging het duisende kommentare op sosiale media ontlok, met verbruikers wat hul teleurstelling en frustrasie uitgespreek het.

“ProNutro was vir dekades deel van ons huise. Ons het daarmee grootgeword. Ons het dit vir ons kinders gekoop. Ons het die produk vertrou, die handelsmerk ondersteun en jaar na jaar ons geld daaraan bestee. Toe is die produk verander. Mense het gekla. Mense het baie duidelik gesê dat hulle nie hou van wat daarmee gedoen is nie. Hulle wou die ProNutro wat hulle geken het, terug hê. En nou is die antwoord eenvoudig om dit te staak. Dít is wat my die meeste teleurstel,” het een verbruiker geskryf.

Ander het gewys op die handelsmerk se emosionele waarde: “Hoeveel SA-kinders het op ProNutro grootgeword…om nie eens te praat van al die geredde babavoeëltjies nie…”

Nog ‘n gebruiker het die nostalgie gedeel: “My gunsteling toe ek ‘n kind was. ‘n Baie dorstige graan en jy het genoeg melk nodig gehad om dit tot ‘n sagte hanteerbare konsistensie te meng. Dit het jou vol gehou tot 15:00 die middag. Maar net die oorspronklike resep, sê ek.”

Sommige verbruikers het hul verwarring uitgespreek oor PepsiCo se verduideliking: “Ek is so verward…so julle het ProNutro vir 64 jaar gemaak en toe het julle skielik vergeet hoe om dit te maak en nou kan julle dit nie weer maak nie?”

‘n Ander verbruiker het die maatskappy se benadering tot kliëntelojaliteit bevraagteken: “Dit voel soos nog ‘n groot korporasie wat ons hoofsaaklik as ‘verbruikers’ op ‘n sigblad beskou eerder as die mense wat hierdie handelsmerke deur dekades van lojaliteit gebou het. Ons maak saak wanneer ons by die kasregisters staan met ons beursies oop. Maar wanneer kliënte uitpraat en sê, ‘Julle het iets verander waarvan ons gehou het,’ hoeveel tel daardie lojaliteit regtig?”

‘n Boer maak ‘n plan

Biltong & Bangers skryf op sy Facebook blad dit is redelik duidelik daar is baie mense wat nie gereed is om afskeid te neem van die ou ProNutro wat hulle ken en liefhet nie.

“En as julle dit nie meer gaan maak nie, moet iemand anders dit miskien doen…want sommige Suid-Afrikaanse erfenis is te goed om net te laat gaan,” lui die inskrywing.

Biltong & Bangers skryf hoewel hulle nie eintlik weet hoe om ‘n graanoperasie te bestuur nie, is hulle seker daar is genoeg slim, bekwame mense in Suid-Afrika wat hul koppe kan saamsit om ProNutro Suid-Afrikaans te hou en werksgeleenthede te skep.

“Ons dink nie eens ons het Elon hiervoor nodig nie! Alhoewel Elon, as jy dit lees en ook ProNutro mis, sluit asseblief by ons aan.”

“…want miskien is die mees Suid-Afrikaanse ding wat ons op hierdie #HeritageDay kan doen (behalwe om die braai aan te steek) om te weier om te aanvaar dat iets nie gedoen kan word nie. ‘n Boer maak ‘n plan,” lui die plasing.

LEES OOK: How supermarkets trick you into spending more

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article