“It’s quite simple, they poisoned it with smoke, chemicals and pollution from factories and cars, and power stations. Silly humans knew what they were doing, but carried on poisoning the planet anyway.” − Richard J. Ward, The Hermit and the Time Machine
‘n Vriendin inspireer my. Die pragtige rok wat sy onlangs na ‘n troue aangehad het, is by ‘n vintage-winkel gekoop. Herwin.
Byna elke artikel wat sy uit haar kas gooi, vervang sy met ‘n herwinde, goeie gehalte kledingstuk.
Self het ek ‘n ou rok vir ‘n troue vernuwe, en drie pare stowwerige hoëhakleerskoene vir ‘n winkel geskenk. Mode, ‘n simbool van styl, persoonlike uitdrukking en kreatiwiteit, is ook ‘n ekologiese ramp.
Elke jaar beland miljoene ton klere op stortingsterreine, veral op die strande en woude van derdewêreldlande wat die las dra van die eerstewêreld se oormaat verbruik.
Die oorskot van Westerse modes word dikwels na Afrika, Asië en Suid-Amerika gestuur as “skenkings,” maar dit is minder edel as wat dit klink.
Die klere is van sintetiese stowwe en nie van volhoubare natuurlike vesels gemaak wat verantwoordelike boere kan onderhou nie. Die sintetiese kledingstukke is in ‘n swak toestand en word afval in lande wat nie die infrastruktuur het om dit te verwerk nie. Die stortings besoedel riviere, belemmer plaaslike tekstielmarkte, en vergiftig die omgewing met chemikalieë uit sintetiese materiale.
Herwinning van klere is dringend noodsaaklik. Wanneer ons klere hergebruik, verminder ons die vraag na nuwe vervaardiging – ‘n proses wat miljoene liter water verbruik en groot hoeveelhede koolstof vrystel.
Deur tweedehandse klere te koop, ou klere op te knap, en ou materiale vir nuwe projekte te gebruik, kan ons help om die invloed van mode op die planeet te verminder.
Herwinning is ‘n daad van respek vir die wêreld en al sy gemeenskappe.
- Lees nog rubrieke hier.