Kalahari-inspirasie ingeasem by tweede Van Zylsrus Kunsteweek

Van Zylsrus Hotel
Beleef ‘n sonsondergang tydens die tweede Van Zylsrus Kunsteweek. FOTO: Van Zylsrus Hotel / Facebook

Kalahari-inspirasie ingeasem by tweede Van Zylsrus Kunsteweek

Van Zylsrus Hotel
Beleef ‘n sonsondergang tydens die tweede Van Zylsrus Kunsteweek. FOTO: Van Zylsrus Hotel / Facebook

VAN ZYLSRUS, NOORD-KAAP – Die inasem van inspirasie om self skeppend te wees. Dit is die klem van die tweede Van Zylsrus Kunsteweek wat vanaf Woensdag 29 September tot Donderdag 1 Oktober in dié Kalahari-dorp plaasvind.

Pieter Pienaar, ‘n organiseerder, vertel dat die kunsteweek drie fokusareas het: Kuns, letterkunde en gratis kunsklasse wat op die duin vir die plaaslike kinders aangebied word.

Behalwe dit vind unieke geleenthede plaas, soos groet-die-son-ervaring, ‘n kaas-en-wyn geselligheid by die eiesoortige en bekoorlike Van Zylsrus Hotel waar ‘n uitstalling van die unieke aasvoëlgeoglief ook plaasvind. ‘n Kunsuitstalling word opgerig en die kunsteweek word met ‘n middagkonsert afgesluit.

LEES OOK: Eerste kunsteweek in Van Zylsrus: ‘Opwindend vanaf die eerste oomblik’

Wees kunstig

Kunsklasse vind by die NG kerk se saal plaas. Van die gebeure in dié kerksaal is Abel van Heerden wat mesmaaktegnieke demonstreer (en jy kry jou eie mes) en Alicia Wambach wat waterverfklas aanbied, en koekversierders inspireer (en jy stap weg met ‘n eie versierde koek). Christiaan Snyman bied beeldhou met pottebakkersklei aan (en hy vervoer jou skepping na Pretoria waar hy dit in sy oond gaan bak), Karen Visser van die Artabella-kunsskool inspireer met haar energieke akrielverflesse, Louis Krüger van die Universiteit van die Vrystaat lei die fotografieklasse en bied ‘n houtskooltekenklas aan.

Alicia Wambach
Alicia Wambach FOTO: Verskaf

Magriet Fourie maak jou vrolik met haar ontspanne gemengde media-aanslag, en Ronél Pickels neem jou op ‘n reis van kunsbevryding met haar unieke gemengde media en “lang papier”-metode. Shane Mayongo leer jou die kuns van tradisionele pottebakkery (en hy gaan bak jou pot in sy oond in Upington) en Sonette Haggies laat jou van oor tot oor glimlag met haar “kwirky” decoupage-klasse.

LEES OOK: Aasvoël-geoglief sprei sy vlerke in die Kalahari-sand

Skryf, dig saam

Letterkunde-klasse en storievertelsessies word Woensdag by die El Shaddai-kerk aangebied. Op dié dag bied die ATKV-tak Kalahari ‘n prosaskryfskool onder leiding van Hettie du Plessis aan. Dr. Johann Lodewyk Marais behartig die poësieskool en Anné Pretorius lei ‘n skryfkompetisie vir “nie-skrywers”.

Later vind storievertelsessies en die bekendstelling van Hettie se derde kinderboek, “Klara vind háár Kalahari” plaas. Die boek is deur Magriet geïllustreer. Persone wat die boek voor die bekendstelling bestel of vir een van die twee skryfskole inskryf, staan die kans om ‘n midweek-wegbreek by ATKV-Buffelspoort te wen.

Ook gaan Anné Pretorius verduidelik hoe haar Memoire-boeke kan help om jou storie vir jou nageslag te bewaar.

‘n Skryfskool vir kinders vind ook plaas. Ida Hutton en haar span hanteer die gratis kunsklasse vir die plaaslike kinders.

Petri Coetzee, die wenner van die ATKV-tak Kalahari en Van Zylsrus Kunsteweek se aasvoël-gedigtekompetisie met sy gedig, “Skrooier”, kan kies watter een van die twee skryfskole hy gratis wil bywoon. Hy was verlede jaar in matriek aan die Hoërskool Kalahari in Kuruman.

Petri Coetzee
Petri Coetzee FOTO: Verskaf

Middagkonsert in Kalahari

Andile Bhali, werksaam in die Karoo se toerisme-sektor, is ook ‘n sanger en deel van ‘n sanggroep. Andile en sy groep het spesiaal vir die Van Zylsrus Kunsteweek ‘n lied in Afrikaans, Engels en Xhosa geskryf en gekomponeer wat hulle in Van Zylsrus wil kom sing. Hy gaan ook ‘n praatjie lewer oor wat die Karoomense doen om toerisme in hul streek te bevorder.

Andile Bhali FOTO: Verskaf
Andile Bhali FOTO: Verskaf

Die middagkonsert vind Donderdag plaas. Behalwe orrelspel gaan gedigte en prosa voorgelees word, en plaaslike en “ingevoerde” sangers en musikante gaan optree. Die bas-bariton Christiaan Snyman en sy violisvriendin, Lizette Vosloo, gaan ook van hulle laat hoor.

Bel vir Pieter by 083 585 3512 en besoek Kunsteweek VZR Arts week op Facebook vir die volledige program.

Bewusmaking van die Van Zylsrus Kunsteweek het wyd en syd plaasgevind.
Bewusmaking van die Van Zylsrus Kunsteweek het wyd en syd plaasgevind. FOTO: Facebook / Kunsteweek VZR Arts week
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article