TygerBurger

‘Kaapstad-begroting melk belastingbetalers genadeloos’, sê VF Plus

Pieter Jansen van Vuuren, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad
Pieter Jansen van Vuuren, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad
TygerBurger

‘Kaapstad-begroting melk belastingbetalers genadeloos’, sê VF Plus


Kaapstad se hersiene begroting vir die 2026/’27-boekjaar, wat eerskomende Maandag (29 Junie) tydens ‘n raadsvergadering bespreek gaan word, gaan sy inwoners uitermatig beproef en sal gewone salaristrekkers en getroue belastingbetalers verder verarm. So meen Pieter Jansen van Vuuren, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

“Hoewel die stad verhoogde drempels vir armoedeverligting en ‘n beskeie 2%-verlaging in die tarief-in-rand uitlig, gaan inwoners weer swaar dra aan eiendomsbelasting en vastedienstegelde,” het Van Vuuren vandeesweek aan die media gesê.

Die tarief-in-rand is die bedrag eiendomsbelasting wat aan die munisipaliteit betaal word vir elke rand van die eiendom se munisipale waardasie.

“Die onlangse algemene eiendomswaardasieproses het eiendomswaardes vir veral middel- en hoërinkomstegroepe aansienlik verhoog. Dit lei tot hoër tariewe vir huishoudings wat se inkomste nie tred hou met die verhogings nie. Hierdie waardasiesprong dreig om talle begunstigde inwoners en pensioenarisse van noodsaaklike elektrisiteitsvoordele uit te sluit, met die vaste koste vir eiendomme bo R1 miljoen wat maandeliks tot R424.30 sal styg,” sê Van Vuuren. Die vaste koste vir die residensiële verbruikerstarief in Kaapstad is tans R390.87 per maand.

LEES OOK: Cape Town rewrites budget rules after high court bombshell

Hierdie bedrag (sonder BTW), sê Van Vuuren, is die gevolg van die nuwe infrastruktuurheffing wat op 1 Julie 2025 ingestel is, en voeg by dat dit aansienlik gestyg het vanaf die vorige maandelikse vruggebruikersheffing van R281.78 – ‘n toename van 38%.

Op 1 Julie 2026 sal daar ‘n verdere verhoging wees. Die beoogde hoër heffingsbedrag van R424.30 wys op ‘n verdere styging van sowat 8.5% vir eienaars met eiendomme met ‘n waarde van meer as R1 miljoen.

Ook busgeld gaan op

Volgens Van Vuuren is die huidige tariefverligtingstelsel vir behoeftige betalende inwoners onvoldoende, en sal hulle nie die stygende vastediensgelde, wat sedert 2024/’25 met tot 68.3% toegeneem het, kan bybring nie.

“Dit is totaal buite die bereik van alle gewone salaristrekkers omdat salarisverhogings nie met sulke buitensporige belastingverhogings tred hou nie,” sê hy.

Dan verwys Van Vuren ook na die voorgestelde verhoging in MyCiTi-tariewe, wat ‘n maandelikse kaartjie vanaf 1 Julie van R1 000 tot R1 500 verhoog, wat volgens hom ook buite die bereik van gewone pendelaars is.

“Al hierdie faktore, tesame met die Wes-Kaapse hooggeregshofbesluit om geen terugbetalings vir voorheen onwettige tariewe te beveel nie, gaan Kaapstad ‘n peperduur en haas onbekostigbare plek maak om in te woon. Dit is duidelik dat die Stad baie geld nodig het om sy maatskaplike welwillendheid te finansier en dat inwoners wat getrou belasting betaal, genadeloos hiervoor gemelk word,” sê hy.

“Die Stad beweer dat infrastruktuurprojekte sal voortduur, maar sonder deursigtige en praktiese maatreëls om huishoudings teen die eskalerende lewenskoste te beskerm, loop hierdie begroting die risiko om eerder politieke ambisie te finansier ten koste van betalende inwoners.”

Dit geen kuns om beter as die ANC te regeer nie. Teen die tariewe wat die Stad se inwoners tans betaal, kan hulle sekerlik verwag om diens van die hoogste gehalte moontlik te kry

Van Vuuren is van mening dat Kaapstad ‘n begroting verdien wat noodsaaklike dienste doeltreffend met die ekonomiese werklikheid van sy diverse gemeenskappe balanseer.

“Die Stad Kaapstad moet versigtig wees dat hy nie sy belastingbasis met ‘n onbillike las van hom vervreem in ‘n poging om die provinsie se snelgroeiende inwonersgetal, wat in baie gevalle ekonomies onaktief is, te akkommodeer nie. Dit help nie om te spog met dienste wat beter is as waar die ANC regeer as jy inwoners daarvoor uitmergel nie. In die eerste plek is dit geen kuns om beter as die ANC te regeer nie. Teen die tariewe wat die stad se inwoners tans betaal, kan hulle sekerlik verwag om diens van die hoogste gehalte moontlik te kry – iets wat glad nie die geval is nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article