WELLINGTON – Die insittendes van ’n bakkie wat die afgelope langnaweek in ’n ernstige ongeluk in die Bainskloofpas betrokke was, was aanvanklik nêrens te vinde nie nadat die voertuig waarin hulle onderweg was by ‘n steil krans afgetuimel het.
Die voorval het vermoedelik Sondag (26 April) plaasgevind toe die bestuurder van ’n bakkie uit die Helderbergstreek naby Eerste Tol aan die Ceres-kant van die pas beheer verloor het, deur ’n nuutgeboude klipmuur gebreek en sowat 50 meter teen die steil krans afgerol het.
Volgens Dries Lotriet, ’n inwoner van die pas, is die presiese tyd en omstandighede van die ongeluk nog onbekend.
Hy vermoed egter dat dit ná die reën Sondag gebeur het, aangesien vars voetspore en ander merke by die toneel sigbaar was.
Lotriet is gistermiddag (27 April) bewus gemaak van die ongeluk en het toe gaan ondersoek instel.
Hy het verduidelik dat die voertuig vanuit die rigting van Ceres na Wellington onderweg was toe dit oor die klipmuur gekantel het. Die impak was so erg dat die bakkie vermoedelik deur twee groot klippe gebreek het voordat dit sowat 50 m teen die krans afgeval het.
Met sy aankoms op die toneel, asook dié van ander ooggetuies, was daar egter geen teken van die insittendes nie.

Lotriet het gesê hy het wel voetspore opgemerk wat daarop kan dui dat die insittendes moontlik die ongeluk oorleef het en self uit die wrak geklim het.
Hy het bygevoeg die vermoede is dat daar twee mense in die voertuig was.
Nooddienste kon Maandag die wrak bereik, waarna insleepdienste die voertuig Maandagaand laat verwyder het.
Volgens Lotriet het verkeersbeamptes hom meegedeel dat die eienaar van die bakkie opgespoor is en dat dit ’n maatskappyvoertuig is. Die insittendes is glo “veilig”, hoewel geen verdere besonderhede oor hul toestand of die gebeure ná die ongeluk bekend gemaak is nie.
LEES OOK: Skade aan Bainskloofpas ná ‘n vragmotor weer verongeluk
Paarl Post het navrae aan die Wes-Kaapse polisie gerig. Kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
Volgens Lotriet gaan die pas gereeld gebuk onder spoedvrate, veral groepe sportmotors wat gereeld naweke die pas gebruik.





