Die Universiteit van die Vrystaat (UV) oorhandig tydens die April-gradeplegtigheidseremonies in Bloemfontein en Qwaqwa vier eredoktorsgrade en ‘n raadsmedalje in erkenning van uitsonderlike werk in die kunste en musiek.
Die eredoktorsgrade word toegeken aan die skywer Ingrid Winterbach, die skrywer en uitgewer Zukiswa Wanner, Prof. Relebohile Moletsane wat ‘n eredoktorsgraad in onderwys ontvang en Sheila Sisulu, ‘n gerespekteerde diplomaat en advokaat.



Prof. Hester Klopper, vise-kansellier en prinsipaal van die UV, sê met dié ere-doktorsgrade word individuele wie se werk die transformerende mag van kennis, kreatiwiteit en leierskap in diens van die gemeenskap, vereer.
Winterback ontvang ‘n doktorsgraad in literatuur DLitt (honoris causa) in erkenning van haar buitengewone bydra tot Suid-Afrikaanse literatuur en kuns.
Winterbach se werk is hoogs aangeskrewe en bekend vir die intellektuele diepte, stilistiese innovasie en sosio-politieke insig. Haar romans het gesogte eerbewyse ontvang, insluitend die Hertzog-prys, die WA Hofmeyr-prys, die M-Net-prys, die Universiteit van Johannesburg-prys vir Kreatiewe Skryfwerk, en die kykNet-Rapport-prys. Haar werk is in verskeie tale vertaal, wat haar internasionale reputasie versterk.

Lees ook: Fiëstas uitgebrei: Hier is die skitterende benoemdes vir 2026.
Wanner het ook ‘n doktorsgraad in literatuur DLitt (honoris causa) ontvang vir haar bydra tot Afrika-literatuur en die kulturele diskoers.
Sy is die skrywer van verskeie romans, kinderboeke en nie-fiksie-werke. Haar roman London Cape Town Joburg het ‘n Suid-Afrikaanse Literatuur-eerbewys ontvang. Dit is later aangepas vir ‘n verhoogproduksie waarvan die eerste vertoning by die UV gehou is. Wanneer is ook die stigter van die virtuele literatuurfees die Afrolit Sans Frontière wat meer as 80 skrywers van oor Afrika heen byeengebring het.
Moletsane word met ‘n eredoktorsgraad vereer vir haar bydra tot navorsing oor geslags-ongelykheid en maatskaplike geregtigheid. Sy dien op navorsingskomissies van onder meer die UNESCO UniTwin vir geestesgesondheid en sielkundige ondersteuning van onderwysers en leerders. Haar navorsing fokus op maniere om ongelyke geslags en seksuele gesondheidsregte te benader en ook op die ervarings van meisies en vroue in veral landelike gemeenskappe.
Sisulu, dogter van Walter Sisulu destyds sekretaris van die ANC, ontvang ook ‘n eredoktorsgraad in onderwys in erkenning van haar bydra tot opvoeding, openbare diens en maatskaplike ontwikkeling.
Sy is ‘n gesiene Suid-Afrikaanse diplomaat wat tot 2023 gedien het as die kansellier van die Walter Sisulu-universiteit. Van 2003 tot 2013 het sy ‘n senior leierskapsrol beklee by die Verenigde Nasies se Wêreldkosprogramme in Rome. Sy was ook vroeër die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA en Konsulgeneraal in New York.

Prof. Anmari van der Westhuizen ontvang op die gradeplegtigheid die UV se raadsmedalje vir haar bydra tot musiek en musiekonderrig.
Dié internasionaal bekronde tjellis is hoof van die Odeion String Quartet en het al in 15 lande oor die wêreld heen op internasionale verhoë verskyn. Deur haar optredes, onderrig en opnames het sy ‘n blywende bydra gemaak tot die ontwikkeling van klassieke musiek en opvoeding.






You must be logged in to post a comment.