Die smokkel van ‘n bedreigde spesie is verhoed danksy ‘n suksesvolle optrede deur die polisie.
Vyf verdagtes is die afgelope Vrydag (17 Julie) by ‘n vulstasie op die N7-snelweg buite Malmesbury in hegtenis geneem kort voordat die beplande ruiltransaksie van ‘n ietermagog sou plaasvind.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder konst. Ndakhe Gwala het polisielede op inligting, wat vroeër ontvang is, gereageer en die verdagtes by die ontmoetingsplek ingewag.
“ ’n VW Polo het agter die vulstasie gestop. Die polisie het op die verdagtes binne die voertuig toegesak en ondersoek ingestel.
“Die ietermagog is in ‘n wit emmer in die bagasiebak gevind,” het Gwala gesê. Volgens die polisie was die dier ten tyde die gebeure in ‘n goeie toestand.
Die verdagtes – tussen 28 en 53 jaar oud – is op aanklag vir die besit van ‘n bedreigde spesie in hegtenis geneem en sou Maandag, 20 Julie, voor die landdroshof in Malmesbury verskyn.
‘n Ietermagog (of ietermagô) is ‘n skaars, skubdraende soogdier wat hoofsaaklik in tropiese streke van Afrika en Asië voorkom.
In Suider-Afrika staan die spesifieke spesie bekend as die Suider-Afrikaanse ietermagog (Smutsia temminckii).
Hulle is nagdiere wat hoofsaaklik van miere en termiete leef en hulself in ‘n bal oprol wanneer hulle bedreig word.
Ietermagogs word veral vir hul skubbe gestroop, wat ‘n ”lekkerny” in Asië is. Hul skubbe word ook as ‘n bestanddeel in tradisionele medisyne en leerprodukte gebruik. Die straatwaarde is sowat R50 000 op die swart mark.
Volgens navorsing, wat in 2019 deur die Instituut vir Sekerheidstudies bekend gemaak is, sal die spesie binne 20 jaar uitsterf indien niks aan die stropery gedoen word nie.
Die dokument getiteld “A Question of Scales” toon dat altesaam 68 000 kg ietermagog-skubbe in net daardie jaar in Suid-Afrika onwettig uitgevoer is.
Fanie Masango van die Groen-skerpioene, wat gehelp het met die samestelling van die dokument, sê daar is nog te veel wat hulle nie van die onwettige handel in dié spesie weet nie.
LEES OOK: Pangolin saved by police in Bloemfontein






