Twee van die Universiteit Stellenbosch (US) se voorste akademici is met van Suid-Afrika se hoogste nasionale eerbetuigings erken nadat President Cyril Ramaphosa die ontvangers van die 2026 Nasionale Ordes aangekondig het.

Prof. Pumla Gobodo-Madikizela sal die Orde van die Kremetart in Brons ontvang vir haar bydrae tot maatskaplike samehorigheid en haar baanbrekende vakkundigheid oor vergifnis, trauma en versoening. Prof Tulio de Oliveira is die Orde van Mapungubwe in Goud toegeken vir sy bydrae tot wetenskaplike navorsing, insluitend die baanbrekende ontdekking van die Omikron-variant van Covid-19.

Die Presidensie het die eerbetuigings Donderdag aangekondig voor ’n seremonie wat op 19 Mei gehou sal word.

Die nasionale ordes is die land se hoogste burgerlike eerbetuigings en erken individue wat ’n uitsonderlike bydrae tot demokrasie, die samelewing, wetenskap en die mensdom gemaak het.

’n Kenner van die “strewe na herstel” en morele verbeelding

Gobodo-Madikizela, die 2024 Templeton-pryswenner, beklee die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Gewelddadige Geskiedenisse en Transgenerasionele Trauma en is die Direkteur van die Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ) aan die US.

Die Presidensie het gesê sy word vereer “vir haar kragtige werk oor konflikresolusie en die konsep van ongevraagde vergifnis. Haar korpus van werk oor die sielkunde van vergifnis word internasionaal erken.”

Haar werk vorm internasionale begrip van trauma, herinnering en versoening in samelewings wat uit geweld herstel. As ’n voormalige lid van die Waarheids-en-Versoeningskommissie se Komitee oor Menseregtevergrype, het Gobodo-Madikizela wêreldwyd bekend geword vir haar rigtinggewende boek, A Human Being Died that Night, wat gebaseer is op haar gesprekke met die apartheid-sluipmoordenaar Eugene de Kock.

LEES OOK: Leading figure in the methodologies of trauma counselling honoured

Oor dekades heen het haar navorsingswerk ondersoek hoe samelewings historiese trauma verwerk, en hoe empatie, toerekenbaarheid en morele verbeelding die siklusse van geweld wat van geslag tot geslag oorgedra word, kan verbreek.

In 2024 het sy die gesogte Templeton-prys ontvang, een van die wêreld se mees gerespekteerde toekennings wat bydraes tot die mensdom se diepste vrae erken. Die John Templeton-stigting het by daardie geleentheid haar pogings geprys om “breuke wat deur historiese geweld geskep is, te heel en ’n pad na genesing en herstel te bou”.

Prof. Deresh Ramjugernath, die US se Rektor en Visekanselier, het Gobodo-Madikizela gelukgewens en opgemerk dat haar werk by AVReQ aan Suid-Afrika en die wêreld noodsaaklike insigte gegee het in hoe individue en gemeenskappe ná konflik genees.

Prof. Pumla Gobodo-Madikizela, Stellenbosch Universiteit
Prof. Pumla Gobodo-Madikizela

“Haar werk spreek direk tot die Universiteit Stellenbosch se verbintenis om kennis ter wille van die samelewing te bevorder en weerspieël die Universiteit se breër fokus op maatskaplike impak, betekenisvolle betrokkenheid en navorsing wat bydra tot menswaardigheid, maatskaplike geregtigheid en transformasie,” het Ramjugernath gesê.

Gobodo-Madikizela het gesê haar werk was nog altyd daarop gerig om uitdrukking te gee aan die diep menslike oomblikke wat moontlik is wanneer samelewings dit waag om gewelddadige geskiedenisse in al hul gebrokenheid in die oë te kyk. “In baie opsigte erken hierdie eerbewys nie net my navorsingswerk oor vergifnis nie, maar ook die oomblikke waarin Suid-Afrika sy menslike gesig aan die wêreld gewys het – die morele verbeelding om menswaardigheid te eer en om waarheid bo ontkenning te kies. Om hierdie erkenning van my eie land te ontvang, vul my met ’n diep gevoel van dankbaarheid en danksegging. Dit is ’n eer ver bo enigiets wat ek toereikend kan uitdruk,” het Gobodo-Madikizela gesê.

’n Wetenskaplike wat gehelp het om die verloop van die pandemie te verander

De Oliveira, Direkteur van die Sentrum vir Epidemie-reaksie en Innovasie (CERI) en die KwaZulu-Natal Navorsingsinnovering en Sekwensiëringplatform (KRISP), het een van die wêreld se mees erkende wetenskaplike stemme in genomiese monitering en epidemiese reaksie geword.

Die Presidensie het gesê hy sal die Orde van Mapungubwe in Goud ontvang “vir sy bydrae op die gebied van wetenskaplike navorsing met ’n baanbrekende ontdekking van die Omikron-variant van Covid-19”.

In samewerking met Suid-Afrikaanse en internasionale medewerkers het De Oliveira ’n leidende rol gespeel in die identifisering van die Beta- sowel as die Omikron-variant van SARS-CoV-2, wat Suid-Afrika in die middelpunt van wêreldwye wetenskaplike pogings geplaas het om die pandemie te verstaan en daarop te reageer.

Prof. Tulio de Oliveira, Stellenbosch Universiteit
Prof. Tulio de Oliveira

Sy werk geniet wêreldwye erkenning en het gehelp om die Afrika-genomiese wetenskap as ’n groot krag in internasionale openbare gesondheid te vestig. In 2021 het die tydskrif Nature hom as een van die tien mees invloedryke wetenskaplikes ter wêreld aangewys. Die tydskrif TIME het hom later by die wêreld se mees invloedryke mense ingesluit.

By die US gaan De Oliveira voort om grootskaalse wetenskaplike samewerkingsprojekte op te bou wat op epidemiese gereedheid, genomika, kunsmatige intelligensie en presisiegeneeskunde fokus. Sy navorsingspanne ondersteun genomiese monitering oor Afrika heen terwyl hulle help om ’n nuwe generasie Afrika-wetenskaplikes op te lei.

Hy het herhaaldelik aangevoer dat wetenskaplike samewerking oor grense heen noodsaaklik is in die bekamping van wêreldwye siektebedreigings.

LEES OOK: Prof Tulio weer op TIME se top-100-lys

Ramjugernath het verwys na die hoë kaliber van kundigheid, innovasie en maatskaplike impak wat in De Oliveira se werk weerspieël word. “Ons wens prof. De Oliveira hartlik geluk met hierdie uitsonderlike en welverdiende erkenning. Hierdie toekenning eer nie net ’n merkwaardige wetenskaplike bydrae tot wêreldwye openbare gesondheid nie, maar bevestig ook die groeiende impak en leierskap van Afrika-wetenskap op die wêreldverhoog.”

De Oliveira het erkenning aan medenavorsers gegee toe hy sy dankbaarheid uitgespreek het. “Ek moet beklemtoon dat dit ’n spanpoging was, en ek wil graag van die hoofbydraers erken, insluitend dr. Richard Lessells, dr. Jennifer Giandhari en dr. Sureshnee Pillay van KRISP by die Universiteit van KwaZulu-Natal, en prof. Houryiiah Tegally, dr. Eduan Wilkinson en prof. Cheryl Baxter van CERI, wat dag en nag regdeur die pandemie gewerk het om wetenskap wat lewens red, te bevorder,” het De Oliveira gesê. “Ek wil ook graag erkenning gee aan die tientalle wetenskaplikes en kollegas van die Netwerk vir Genomiese Monitering in Suid-Afrika, ’n netwerk wat ten volle deur die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad gefinansier word.”

Erkenning vir US-vakkundigheid

Hierdie dubbele erkenning is ’n betekenisvolle oomblik vir die US, met twee van sy akademici wat nasionale eerbewyse ontvang vir werk wat sowel die openbare lewe as globale wetenskaplike kennis gevorm het.

Die een het dekades lank die menslike gevolge van geweld en die moontlikhede van genesing ondersoek. Die ander het die wêreld gehelp om een van die gevaarlikste bedreigings vir openbare gesondheid in die moderne geskiedenis op te spoor en daarop te reageer.

Saam weerspieël hul werk die omvang van wetenskaplike navorsing wat uit Suid-Afrikaanse universiteite voortspruit – navorsing wat stewig gewortel is in sowel plaaslike realiteite as globale impak.

Ramjugernath het gesê die instelling is trots om erkenning te gee aan die diens wat twee van sy akademici aan die nasie lewer. “As een van Afrika se toonaangewende navorsingsintensiewe universiteite, is die Universiteit Stellenbosch trots om wetenskaplike navorsing te ondersteun wat nie net akademiese uitnemendheid bevorder nie, maar ook help om van die mees komplekse menslike en maatskaplike uitdagings van ons tyd op te los.”

Die Nasionale Ordes-toekenningseremonie sal Dinsdag (19 Mei) plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article