Alle krieketwedstryde op Bolandpark sal sonder toeskouers gespeel word te midde van die opknappings vir die Wêreldbeker in 2027. Foto: Verskaf

Herrie oor krieket sonder toeskouers in Paarl

Alle krieketwedstryde op Bolandpark sal sonder toeskouers gespeel word te midde van die opknappings vir die Wêreldbeker in 2027. Foto: Verskaf

Ontevredenheid onder krieketondersteuners het op sosiale media losgebars nadat Boland Krieket en Krieket Suid-Afrika aangekondig het dat wedstryde op Bolandpark in die Paarl sonder toeskouers gespeel sal word terwyl die stadion opgeknap word.

Die opknapping vorm deel van die ontwikkeling van Bolandpark as een van die gasheerstadions vir die 2027 Internasionale Krieketraad en Wêreldbeker-krieket. Sowat R30 miljoen word aan die opknapping bestee.

Bolandpark het tans sowat 8 000 sitplekke. Volgens James Fortuin, uitvoerende hoof van Boland Krieket, sal die opgeknapte stadion 12 000 sitplekke hê.

Die besluit het kritiek ontlok, met ondersteuners wat die tydsberekening van die opknapping bevraagteken en meen dit kon buiteseisoens gedoen word.”Baie swak beplanning, Boland Krieket se uitvoerende beamptes,” het een ondersteuner gesê. Volgens hom kon die werk gedurende die wintermaande gedoen word en voor die begin van die krieketseisoen voltooi word.

‘n Ander ondersteuner het gesê die besluit beteken dat Boland Krieket inkomste én tuisondersteuning verloor, aangesien die wedstryde gewoonlik goeie skares na Bolandpark lok.

“Patetiese beplanning,” het ‘n ander persoon gereageer.

Wedstryde wat gedurende die opknapping op Bolandpark gespeel word, sal ook nie vir die “Catch your share”-kompetisie van die Pro20-beker kwalifiseer nie.

Nog iemand wou weet of die veld oop sal wees vir toeskouers tydens die SA20-wedstryde.

Fortuin het Dinsdagoggend (29 September) by navraag aan Paarl Post gesê Bolandpark sal teen 1 Desember weer vir toeskouers oop wees.

“Die veld sal teen 1 Desember oop wees en sal definitief teen die tyd van die SA20 en Suid-Afrika teen Engeland oop wees,” het hy gesê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article