Sprekers, onderwysers en leerders by Swartberg Primêr se beroepsdag en bekendstelling van die loopbaanklub. Leerders het aangetrek volgens die beroep wat hulle graag eendag wil volg. Foto: Mitzi Buys

Leerders van Swartberg Primêr oor toekomsdrome ingelig

Sprekers, onderwysers en leerders by Swartberg Primêr se beroepsdag en bekendstelling van die loopbaanklub. Leerders het aangetrek volgens die beroep wat hulle graag eendag wil volg. Foto: Mitzi Buys

By Swartberg Primêr het dit onlangs gewemel van verpleegsters, brandweermanne, paramedici en dokters, want dit was die skool se beroepsdag waar leerders kon aantrek volgens die beroep wat hulle moontlik eendag wil volg.

Op dié dag is Swartberg Primêr se loopbaanklub amptelik bekendgestel. Verskeie professionele mense uit verskillende beroepsvelde het die skool besoek en inligting oor hul werk, ervarings, toerus­ting en daaglikse verantwoordelikhede gedeel.

Casey Keet, ‘n onderwyser by Swartberg Primêr, het aan Hermanus Times gesê: “Die doel was om ons leerders aan verskillende beroepe bloot te stel, hulle aan te moedig om groot te droom en te help verstaan hoe belangrik opvoeding en toekomstige geleent­hede is. Leerders is aangemoedig om aan te trek volgens die beroep wat hulle eendag wil volg en dit was wonderlik om soveel kreatiwiteit, opgewondenheid en selfvertroue te sien. By Swartberg Primêr glo ons elke kind het die potensiaal om groot dinge te bereik en vandag het ons leerders daaraan herinner dat hul drome moontlik is met harde werk, toewyding en geloof in hulself,” het Keet gesê. Verteenwoordigers van die verkeersafdeling, die Caledon-biblioteek (in samewer­king met Badisa en Emoji Movement), nooddienste, YeBoneers, die Caledon-brandweer en korrektiewe dienste het hul werk aan die leerders verduidelik.

Die Caledon- Casino Hotel & Spa se verteenwoordiger het oor werksgeleenthede in die gasvryheidsbedryf gepraat, terwyl ‘n sonograaf en ‘n fisioterapeut van die Caledon-hospitaal meer oor hul werk vertel het. Al die sprekers het die belangrikheid van vakkeuses en harde werk op skool met goeie uitslae beklemtoon.

Die loopbaanklub is juis gestig om vroeë bewusmaking van die werkswêreld by leerders te doen asook om die belang­rikheid van vakkeuses, veral STEM-vakke (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) wat op hoërskool aangebied word, te verduidelik.

Leerders het die geleentheid gehad om vrae te vra en te hoor oor beroepe waarvan hulle dalk voorheen min geweet het. Aangesien daar so ‘n wye reeks beroepe is om van te kies, sal ander beroepe by opvolg­­geleenthede bespreek word.

“Die dag het ‘n betekenisvolle leerervaring geskep en baie leerders aangemoedig om positief oor hul toekoms en doelwitte te dink,” het Keet gesê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article