Duisende leerders van verskeie skole in Soweto het op 16 Junie 1976 betoog vir die reg om in hul moedertaal onderrig te word. Ter herdenking aan die gebeure van dié dag, wat tragies met die dood van verskeie leerders geëindig het, word Jeugdag jaarliks op 16 Junie in Suid-Afrika herdenk.
Verskeie instansies reël gereeld aktiwiteite vir die jeug om dié dag te vier. In Caledon het die Caledon-biblioteek, in samewerking met die Caledon-museum, die @HomeLearning Yeboneers en die departement van sport- en kultuursake verlede Maandag (15 Junie) ‘n dag vol aktiwiteite vir die jeug in die Victoriasaal aangebied.
Gerhard Afrika van Wyk van die Caledon-biblioteek het kortliks die geskiedenis van Jeugdag en die gebeure van 50 jaar gelede aan die kinders verduidelik terwyl sersant Tembinkosi Gweyi en die fiksheidsinstrukteur DK Papier motiveringsboodskappe aan die kinders teenwoordig oorgedra het.
Sbahle Shandu, ‘n berader by die gesondheidsdepartment, het oor streshantering en veerkragtigheid by jong atlete gepraat.
Afrika van Wyk sê: “Die doel van die dag was nie net om lekker speletjies te speel nie, maar ook om kommunikasie, vertroue en die vermoë om na ‘n gemeenskaplike doelwit te werk, onder die jeug te ontwikkel en om hulle te leer om sukses met nederigheid te hanteer en ook hoe om teleurstellings wat en wanneer dit dalk oor hul pad kom, te kan hanteer en daarvandaan die herstelpad te stap. “Dit is hoekom ons die spesifieke sprekers gekies het om met die jeug te praat.”
Ná die praatjies kon die kinders buite aan ‘n verskeidenheid speletjies deelneem, wat sokker, domino’s, skaak en ander bordspeletjies ingesluit het. “Dit was ‘n baie suksesvolle oggend en almal – volwassenes inkluis – het die speletjies terdeë geniet,” sê Afrika van Wyk.


