Biblioteke is soveel meer as ‘n plek waar boeke vir uitgeneem word. Biblioteke is ‘n integrale deel van hul gemeenskappe deur die verskeidenheid dienste en programme wat hulle aan die gemeenskap lewer. Dit is juis om dié rede dat Nasionale Biblioteekweek in 2001 deur die Biblioteek- en inligtingvereniging van Suid-Afrika (Liasa) in die lewe geroep is.
Die tema vir Nasionale Biblioteekweek, wat vanjaar van 16 tot 22 Maart gevier is, was “Herontdek kennis en ontsluit die toekoms”. Biblioteekweek in die Theewaterskloof (TWK) het reeds drie weke gelede, Vrydag 13 Maart, met ‘n pret-staptog in Caledon begin. Personeel van al die biblioteke in die TWK- munisipale gebied het aan die staptog, wat by die munisipale kantoor begin en geëindig het, deelgeneem. Baie van die stappers was in prettige bont uitrustings met groot sonhoede geklee. Die TWK-onderburgemeester, Cynthia Clayton, lede van die polisie, wetstoepassers, die brandweer en verskeie ander organisasies het ook aan die staptog deelgeneem.

Alle biblioteke het gedurende biblioteekweek ‘n propvol program aangebied. By die Tesselaarsdal-biblioteek het onder andere die brandweer, die polisie en die gesondheidsdepartement praatjies en demonstrasies aangebied.
Die Greyton-biblioteek het as deel van sy program oor Menseregtedag by die Greyton House-skool gepraat, leesprogramme by vroeë kinderontwikkelingsentrums aangebied asook Sassa genooi om die gemeenskap met inligting te help.
Die Caledon-biblioteek het onder meer die TWK se waterbesparingsboekie by skole en kleuterskole bekendgestel, asook die Iziko-museum na The Glebe Primêr in Myddleton genooi vir ‘n praatjie en demonstrasie. (Hermanus Times 25 Maart 2026).
Gerhard Afrika van Wyk sê: “Ons het ook na die Heidehof-ouetehuis uitgereik, waar ‘n skreeusnaakse voorlesing gedoen is, en ook ‘n stoepstorie-oggend by die Protea-dienssentrum aangebied. Biblioteekweek was ‘n reusesukses.”
Sybil Lee, die hoof van die TWK-biblioteekdienste, sê: “Biblioteekweek was werklik baie geslaag. Alle biblioteke in die TWK-gebied het elke dag vol programme aangebied – eintlik te veel om op te noem. Wat belangrik is, is dat biblioteekweek ook ‘n boetevrye week was om mense aan te moedig om hul uitstaande biblioteekboeke terug te bring. Al die biblioteke bied deurgaans koste-vrye dienste aan, wat 30-minute-internetgebruik insluit. Personeel staan ouers by met aanlyn skoolaansoeke, help mense met werkloosheidsversekeringsfondsregistrasie en baie meer. Die enigste diens waarvoor gebruikers betaal, is om fotostate te maak.”






