Die gr. 2-, 3- en 4-leerders van The Glebe Primêr in Myddleton kon skaars hul nuuskierigheid en opgewondenheid beteuel toe hulle sien wat alles in hul klaskamer ingedra word. Dit was mandjies en bokse en rooi draad-en-krale-sokkerskoene, ‘n opgestopte pikkewyn en die beste van alles – ‘n klomp toegeskroefde glashouers met snaakse goed in.
Al dié vreemde voorwerpe was artefakte wat Sithembele Harmans van die Iziko-museum saamgebring het om aan die leerders te wys en om daaroor te praat. Die Caledon-biblioteek het Harmans genooi om by The Glebe te kom praat as deel van die Suid-Afrikaanse Biblioteekweek van 16 tot 22 Maart.
Harmans het verduidelik dat biblioteke se boeke kennis aan lesers verleen en dat die artefakte museums se “boeke” is waaruit ook geleer kan word. Harmans het die leerders met sy opgewekte en innemende geaardheid in die holte van sy hand gehad. Hy het verskillende afde-
lings van museums aan die leerders verduidelik en vrae aan hulle gestel. Ook die artefakte soos bv. die rooi krale-sokkerskoene wat gemaak is ter viering van die Wêreldbekersokkertoenooi in 2010, wat in Suid-Afrika aangebied is, is verduidelik.
Toe dit by die glashouers se inhoud kom, was daar baie jille en gille, want hiér was eienaardige, grillerige goed soos slange in. Harmans het verduidelik dat die bottels ‘n spesiale middel bevat waarin die slange en ander diere gepreserveer word. Hy het ‘n klein pylstertvis uit een van die bottels gehaal om vir die leerders te wys en die vis se wapen – die “pyl” aan die punt van sy stert – aan hulle uitgewys. Harmans het genoem dat die bottels met slange in nooit oopgemaak word nie.
Toe hy ‘n groot plastiekkrat nader trek en vra of enige leerder hom wil help om vir ‘n rukkie ‘n marienebioloog te wees, het van die leerders hul oë styf toegeknyp en hul koppe geskud.
Die 10-jarige Chrislynn Heyns het dapper na vore gekom en die blou plastiekhandskoene aangetrek, gereed om vir ‘n rukkie ‘n marienebioloog te wees. Sy het klein haaie asook ‘n seekat uit die krat geneem en aan die leerders gewys terwyl Harmans meer oor hulle vertel het.
Hierdie besoek van die Iziko-museum is gewis een wat die leerders van The Glebe nie gou sal vergeet nie.
• Die Iziko-museum bied gereeld opvoedkundige programme by biblioteke en skole aan. Bel Harmans by 021 481 3812 of stuur e-pos na sharmans@iziko.org.za vir noginligting.





