Lourens Lourens van Grabouw het ‘n noue ontkoming gehad toe sy motor een van die perde tussen Hawston en Fisherhaven getref het.

Wilde perde en ander diere skep probleme op R43 en N2

Lourens Lourens van Grabouw het ‘n noue ontkoming gehad toe sy motor een van die perde tussen Hawston en Fisherhaven getref het.

Dit is nie net die N2 naby die lughawe wat ‘n gevaar vir padgebruikers inhou nie, maar ook die N2 naby Grabouw, waar klipgooiery aan die orde van die dag is en nou ook die R43 waar diere ‘n gevaar vir motoriste inhou.

Padgebruikers wat al jare tussen Somerset-Wes en Hermanus pendel, sê die wilde perde en ander diere wat oor die R43 hardloop, is ‘n groot gevaar. Een so ‘n padgebruiker vertel al is die spoedbeperking 80 km/h, is dit veral vroegoggend en in die skemer ‘n probleem.

“Ek gebruik die pad al langer as 10 jaar en al mag ons maar net 80 km/h ry, kan ‘n mens nie vinnig genoeg remme aanslaan as ‘n dier oor die pad hardloop nie. Dit is nie net die wilde perde wat ‘n probleem is nie, maar ook honde by Hawston,” vertel hy. Volgens hom is die heinings wat die buurte van die R43 skei in 2024 vir ontwikkeling verwyder en nooit weer opgerig nie.

“Ek glo nie padtekens is die antwoord nie; ek dink ‘n heining sal die beste werk,” het hy gesê.

‘n Inwoner van Grabouw het vroeg in Maart ‘n noue ontkoming gehad toe ‘n perd voor hom ingehardloop het. Die voorval, wat Donderdagaand 5 Maart plaasgevind het, het by Fisherhaven gebeur. Volgens Lourens Lourens het hy remme aange-

slaan, maar dit was te laat. Nie net is sy motor afgeskryf nie, maar die perd moes van kant gemaak word en hy en sy vriendin is na die Hermanus-hospitaal geneem.

Volgens konst. Ndaka Gwale is hulle bewus van die voorval en hy het bevestig dat ‘n ongeluksverslag by die Hermanus-polisiekantoor ingedien is.

Lourens Lourens van Grabouw se motor is afgeskryf na ‘n botsing met ‘n perd op die R43.

Lourens vertel hulle kon dood gewees het en hulle is dankbaar om te lewe. “Ek is gelukkig ek lewe, maar die finansiële verlies wat ek nou ly omdat my motor afgeskryf is, plaas ‘n groot las op my skouers. My motor was nie verseker nie omdat ek dit nie kan bekostig nie, en nou moet ek nog tot aan die einde van die jaar ‘n premie betaal. Ek sal die wrak nou seker vir ‘n appel en ‘n ei moet verkoop,” het Lourens gesê.

Hy beklemtoon hy is gelukkig dat hy en sy vriendin nie ernstig beseer is in die botsing teen die perd nie, maar wil graag weet waarom is daar nie kennisgewingborde op die R43 om padgebruikers teen die wilde perde te waarsku nie.

Die Overstrand-munisipaliteit het ook bevestig dat die diere op die R43 vir hulle ‘n probleem is. “Ons doen ‘n beroep op inwoners om hul diere in hul erf te hou en ons doen ‘n beroep op padgebruikers om by die spoedbeperking te hou,” het die OM gesê. “Ons is dankbaar dat ons saam met CapeNature kan werk om toe te sien dat die R43 vir padgebruikers veilig is.”

Muneera Allie van die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement sê diere op openbare paaie bly ‘n probleem en dit is nie net op die R43 nie, maar ook op die N2 naby Grabouw en Sir Lowryspas.
“Omheinings kan ‘n antwoord wees, maar dit word afgebreek – soms nog dieselfde dag as wat dit opgerig word. Dit is nie volhoubaar nie.”

As jy op diere op openbare paaie in die Overstrand- munisipale gebied afkom, skakel die verkeersafdeling by 028  313  8996, in die Theewaterskloof-gebied by 0800  214  730 of op ander paaie – soos op die N2 – skakel die Nasionale Dierebeskermingsvereniging by 021 700  4158/9 of ná ure by 083 326 1604; die verkeersdepartement van die Stad Kaapstad by 021 480 7700 of 107 van ‘n landlyn af, die provinsiale verkeersafdeling by 021 928 6400 of RoadWatch (Roadkill Tracking) – gebruik die “RoadWatch”-app om voorvalle aan te meld.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article