Wyle Kurt Fortune wat Sondagoggend op die R43 oorlede is.

Die R43-pad tussen Hermanus en Kleinmond eis nóg ‘n lewe


“Dit staan deesdae bekend as die pad van die dood…” Dit is hoe inwoners van die Overberg voel nadat nog ‘n lewe op die R43 naby Benguela Cove verloor is.

Sondagoggend, wat vir menige gesin ‘n dag is wat hulle saam deurbring, was vir die Fortune-gesin ‘n dag wat hulle nooit sal vergeet nie. Kurt, ‘n bekende gesig in Hermanus en Botrivier, die eienaar van AJ Motor Trimmers asook die president van die Overberg-Villains-motorfietsklub, is Sondagoggend vroeg noodlottig in ‘n ongeluk op die R43 beseer.

Volgens sers. Wesley Twigg, woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, is ‘n saak van strafbare manslag by die Hermanus-polisie geregistreer. ” ‘n Motor en ‘n motorfiets was by die ongeluk betrokke. Volgens die polisieverslag het die motor en motorfiets gebots en is die motorfietsryer op die toneel dood verklaar.

“Ons kan bevestig dat ‘n man in hegtenis geneem is en in die Hermanus-landdroshof gaan verskyn nadat hy aangekla is. Enigeen met inligting oor die voorval kan Crime Stop by 08600 10111 skakel of die App, MySAPS, gebruik,” het Twigg gesê.

Medelye vir Kurt en sy familie het op sosiale media ingestroom. Op die Facebookblad van die Villains-motorfietsklub staan: “It is with a heavy and broken heart that we announce the passing of our President, Kurt. Kurt was more than a leader, he was a pillar of strength, a source of guidance, and a deeply valued member of our community. His dedication, passion, and unwavering commitment will never be forgotten.

“Biking was his life, all he could ever speak about were his race days, riding his bikes, and all the jols. Kurt was the life of the party and truly the light in everyone’s life, bringing energy, laughter, and unforgettable memories wherever he went. The Villains will forever cherish him, holding onto the memories, the lessons, and the impact he made in all our lives.

“We extend our heartfelt condolences to his family, loved ones, and everyone whose lives he touched. May we honour his legacy by continuing the work he cared so deeply about. Rest in peace, our President. You will be dearly missed.”

Kurt was ook ‘n groot Botla Fire-ondersteuner en het nie geskroom om met trots sy Botrivier-rugbyklubtrui te dra nie. Die klub het in ‘n persverklaring gesê Kurt was ‘n ware aanwins vir die klub deur sy liefde en ondersteuning. “Sy toewyding en passie sal nooit vergeet word nie.”

Vrydag op die vooraand van die langnaweek was die R43 vir ‘n paar uur gesluit en moes padgebruikers die Karwyderspad neem om by hul bestemming te kom, nadat daar weer eens ‘n noodlottige ongeluk op byna dieselfde plek was waar Kurt sy lewe verloor het.

Volgens Twigg ondersoek Hermanus-polisie ‘n saak van strafbare manslag nadat ‘n privaat ambulans en twee motors betrokke was. “Volgens die verslag was dit ‘n botsing reg van voor en ‘n 86-jarige vrou is op die toneel dood verklaar, terwyl die ander slagoffers per ambulans na die hospitaal geneem is. Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek en geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie.”

Die twee ongelukke het skaars drie weke gebeur nadat Sharon Telling, ‘n bekende inwoner van Hermanus, ook op die pad op 1 April dood is. Die R43 was ook vir meer as vyf ure gesluit nadat Telling en ‘n ander padgebruiker in die botsing reg van voor betrokke was.

Vrae rakende die spoedgrens op die R43 is nou op almal se lippe. Die spoedgrens wat 120km/h is en net by Hawston (80km/h), Salandra (100km/H) moet volgens inwoners van die omgewing aangepas word. Een leser van Fisherhaven het die Hermanus Times gekontak en gesê die ongelukke ruk nou handuit. Volgens hom kan hulle die oggende nie eens die aansluiting tussen die R43 en die pad na Fisherhaven oorsteek nie as gevolg van die druk verkeer. “Net so is daar ook gereeld ongelukke by die Kleinmond-afrit. Iewers sal iets gedoen moet word om die probleem op te los. My persoonlike mening is dat hulle die spoedgrens sal moet verminder, verkeersdepartement moet meer sigbaar op die R43 wees en spoedwalle moet voor die Fisherhaven- en die Kleinmond-aansluiting opgerig word.”

Intussen het pastoor Roeloef du Toit saam met die kapelaan Mark Robson ‘n beroep om die gemeenskap en ander padgebruikers oor die Overberg heen gemaak om saam met hulle te kom bid op die R43 waar Kurt sy lewe verloor het. “Moenie dat die weer julle ophou nie, asseblief kom bid saam met ons vir die veiligheid van ons padgebruikers,” het Du Toit op Facebook gesê.

• Kommentaar is vir Sanral gestuur rakende die spoedgrens op die R43, maar teen druktyd is nog geen inligting ontvang nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article