Wilfred Solomons-Johannes, een van die organiseerders van die Cape Epic, Cynthia Clayton (onderburgemeester van die TWK) en GW Hermanus (waarnemende munisipale bestuurder van die TWK).

Theewaterskloof-munisipale area slaan slag uit Cape Epic

Wilfred Solomons-Johannes, een van die organiseerders van die Cape Epic, Cynthia Clayton (onderburgemeester van die TWK) en GW Hermanus (waarnemende munisipale bestuurder van die TWK).

VerledeWoensdag was ‘n besige dag in Riviersonderend… nie net vir al die vakansiegangers wat op die N2 deur die dorp op pad na hul bestemmings toe ry nie, maar ook vir die Cape Epic-fietsryers en -ondersteuners.

Riviersonderend het behoorlik soos ‘n miernes gelyk met sy inwoners wat op straat gestaan en die fietsryers aangemoedig het. Cape Epic-ondersteuners het die lekker pasteie en weg- gesteekte winkeltjies van die dorp kom geniet en selfs die laerskool se leerders het voor die kerk bymekaargekom om die deelnemers te ondersteun.

Maar dit was Greyton wat gewys het waarom hy ‘n paar jaar gelede as die Dorp van die Jaar aangewys is wat almal verras het. Die vierde skof van die gewilde Cape Epic het Donderdag in Greyton begin en dié dorp in die Overberg het almal aan die gons. Die dorp en sy inwoners het uit hul pad gegaan om deelnemers en gaste te verwelkom en oral was daar versierings van fietse en die feestelike atmosfeer wat in die dorp geheers het, het almal deel van die dorp en die gebeurtels laat voel.

Leerders van verskeie skole asook die inwoners het die fietsryers van dié moordende fietsren met luide applous en wapperende vlaggies in die dorp verwelkom. Ook sakeondernemings in die dorp het gees gevang en hul persele in rooi, geel en swart versier terwyl baie ‘n versierde fiets tentoongestel het. Vir baie van die opgewonde leerders moes die hoogtepunt gewees het toe van die fietsryers in die verbyry hulle met ‘n high five gegroet het.

Woensdagaand het die onderburgemeester, Cynthia Clayton, en die waarnemende munisipale bestuurder, GW Hermanus, die deelnemers en die gaste amptelik in die Theewaterskloof- munisipale gebied verwelkom.

“Die Theewaterskloof-munisipaliteit wil almal welkom heet en sy verbintenis tot dié wêreldbekende sportgebeurtenis beklemtoon. Dit is ‘n geweldige eer vir Theewaterskloof om deel van die Absa Cape Epic, een van die mees vooraanstaande bergfietswedrenne ter wêreld, te wees. Gebeurtenisse van hierdie omvang werp ‘n wêreldwye kollig op ons streek, wat toerisme ‘n hupstoot gee, plaaslike ondernemings ondersteun en die natuurlike skoonheid en gasvryheid van ons dorpe ten toon stel. Ons is trots om besoekers van oor die wêreld heen te verwelkom om alles te ervaar wat die Theewaterskloof te bied het,” het die burgemeester, Lincoln de Bruyn, gesê.

Hermanus het die TWK se gereedheid en ondersteuning beklemtoon: “Ons spanne werk ywerig om te verseker dat alle logistieke en bedryfsaspekte vlot verloop – van infrastruktuur-gereedheid tot gemeenskapskoördinasie. Ons staan gereed om die organiseerders en deelnemers waar nodig by te staan. Ons heet alle spanne en besoekers welkom en vertrou hul ervaring sal aangenaam wees.”

Greyton se inwoners en sakeondernemings het uit hul pad gegaan om die dorp vir besoekers en deelnemers te versier. Foto: Marinda Naude
Oral was daar fietse wat versier is en deelnemers is met luide applous in die dorp verwelkom. Foto: Marinda Naude
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article