Min het die Hermanus-gemeenskap geweet dat die botsing verlede Dinsdag (7 Julie) op die N2 tussen Heidelberg en Riversdal die dorp so gaan ruk.
Die kop-aan-kop-botsing tussen ’n Toyota-minibus en ’n sportnutsvoertuig het die oggend omstreeks 10:00 gebeur. Vyf mense is in die voorval dood en minstens 10 beseer.
Dit was egter die Facebook-inskrywings op die Laer- en Hoërskool Hermanus wat die dorp geruk het. “Ons dink met diepe medelye aan die familie en vriende van die Van Jaarsveldt-gesin, wat die groot verlies van Rudi, Lara, Izak en Ruan moet verwerk. Ons dra in die besonder Izak se Laerskool Hermanus- graad-6-maats en Ruan (matriek 2024) se vriende in ons gedagtes en gebede op en bid vir krag vir almal wat vir hulle lief was,” het die beheerliggaam, skoolhoof en personeel van die Hoërskool Hermanus gesê.
Die Laerskool Hermanus het op sy Facebookblad die volgende geplaas: Dit is met diepe hartseer dat ons u in kennis stel van die tragiese afsterwe van een van ons graad-6-leerders, Izak van Jaarsveld, en sy gesin. Namens die personeel, leerders en die beheerliggaam van die Laerskool Hermanus betuig ons ons innige meegevoel aan die familie, vriende en almal wat deur hierdie groot verlies geraak word. Ons dra hulle in ons gebede op en vertrou dat hulle in hierdie uiters moeilike tyd troos, krag en vrede sal vind.”
Dit is met dié Facebook-inskrywings dat die meeste inwoners besef het die geliefde Van Jaarsveldt-gesin was van Hermanus. Rudi was die bestuurder van Pet & Pool by die Gateway-sentrum en sy liefde vir sy werk, medemens en diere het geen perke geken nie. Haws het op sy Facebook-blad gesê Rudi was meer as net ’n ondersteuner van Haws. “Hy was ’n vriend wat altyd bereid was om met geldinsamelingsprojekte te help. Sy liefde vir diere het ’n groot verskil gemaak.”

Al is die oorsaak van die botsing nog nie bekend gemaak nie, het die Heidelberg-polisie ’n saak van strafbare manslag aanhangig gemaak.
Volgens bronne was die Van Jaarsveld-gesin op pad na Rudi se ouers, wat in Karatara woon – ’n klein dorpie naby Sedgefield – toe die ongeluk gebeur het. Rudi en sy vrou, Lara, is op die toneel oorlede terwyl Izak en Ruan in die Riversdal-hospitaal opgeneem is. Izak is later die dag oorlede terwyl Ruan na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas is. Hy is die volgende dag (Woensdag) oorlede.
Volgens die familie voel alles steeds so onwerklik, maar wat vir hulle vertroosting bring, is die feit dat hulle almal saam gesterf het. Volgens hulle was die Van Jaarsveldts ’n hegte gesin wat alles saam gedoen het.
’n Gedenkdiens word Vrydag (17 Julie) om 10:00 by die NG kerk Onrusrivier gehou.
• ’n Passasier van die minibus, Michele Lombard (34), is ook op die toneel dood. Michele was die afgelope 15 jaar ’n inwoner van die Eljada-sorgsentrum in Oudtshoorn







You must be logged in to post a comment.